|

AfriForum eis optrede van Tshwane Metro oor elektrisiteit

AfriForum het op 28 Julie 2020 ’n skrywe gerig aan Makgorometje Makgata, waarnemende munisipale bestuurder van die Tshwane Metro, oor die elektrisiteitsprobleem wat groot dele van Pretoria tans ervaar. Die organisasie het verskeie klagtes van inwoners ontvang oor kragonderbrekings wat die afgelope vyf dae plaasgevind het.

Die staking van die afgelope week het veroorsaak dat die reeds swak munisipale dienslewering verdere druk ervaar. Klagtes van inwoners sluit in dat hulle geen terugvoer ontvang op die verwysingsnommers wat aan hulle toegeken is nie. Boonop is die Metro se nauurse inbelsentrum onaktief en inwoners ontvang geen terugvoer nie. Dit beteken dat huishoudings en sakeondernemings die hele naweek sonder elektrisiteit is wanneer die toevoer op ’n Vrydagmiddag opgeskort word.

“AfriForum eis in sy skrywe aan die Metro dat die nauurse inbelsentrum onmiddellik beskikbaar gestel word. Indien nie, sal AfriForum nie skroom om Nersa te nader om te verseker dat die Metro aan die toepaslike wetgewing voldoen nie,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“AfriForum verwag dat die Metro dringend hul sake in orde kry. Ons sal verdere stappe doen om inwoners se regte te beskerm indien die Metro versuim om hul pligte na te kom,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

“AfriForum sal die situasie noukeurig dophou en druk waar nodig toepas,” sluit Steinberg af.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en word deel van die oplossing: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings