|

AfriForum eis R260 000 van Mkhondo munisipaliteit

AfriForum het as deel van sy nasionale slaggatmaand-veldtog R260 000 van die Mkhondo plaaslike munisipaliteit geëis vir slaggate wat in Piet Retief herstel is.

Dit kom nadat dié munisipaliteit ’n ooreenkoms met AfriForum verontagsaam het wat reeds op 24 Junie 2015 bereik is.

Sakelui in Piet Retief het in Oktober 2015 reeds R140 000 vir slaggatherstelwerk in Salignastraat in dié dorp se industriële gebied beskikbaar gestel. Vandeesweek het AfriForum slaggate van 1 400 vierkante meter teen ’n koste van R120 000 herstel. ’n Gekonsolideerde eis is daarom teen die Mkhondo plaaslike munisipaliteit ingestel.

Volgens Johann Weber, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Oos, het die munisipaliteit egter tot op hede nie op dié aanmaning gereageer nie en versuim steeds om hul grondwetlike plig ingevolge die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels, 2000 (Wet No 32 van 2000) na te kom.

“Indien die munisipaliteit hierdie eis van R260 000 ignoreer, het AfriForum geen ander keuse as om hom tot die hof te wend nie,” Weber gesê.

Luidens mediaberigte beplan die reeds sukkelende munisipaliteit om binnekort R84 miljoen aan ’n teerpad van drie kilometer te spandeer wat ’n klein plaasgemeenskap in Sandbank naby Piet Retief sal bedien. Volgens Weber blyk dit dat ’n wanbalans bestaan in die wyse waarop die munisipaliteit die bou en herstel van paaie prioritiseer.

Forum Nuus het ondersoek ingestel en gevind dat die tenderbedrag geregverdig kan word omdat die projek verskeie brûe in dié munisipale gebied insluit.

Irene Brusow, DA-raadslid in Mkondo, het aan Forum Nuus gesê dat sy self die verslag en plan van die projek bestudeer het en dat 17 tenders voorgelê is met pryse wat wissel tussen R72 mijoen en R124 miljoen. Sy het die verslag aan Forum Nuus gestuur en verduidelik dat die projek sal strek oor ʼn tydperk van drie tot vier jaar en dat die tenderprys inflasie ook in ag neem.

Sy sê voorts dat die projek nog nie finaal deur die raad goedgekeur is nie, omdat die begroting vir die projek nog nie vasgestel is nie. Sy is ook van die mening dat die begroting goed deurdink moet word, omdat die geld moontlik die breë gemeenskap op ʼn ander wyse beter kan dien.

 

 

Soortgelyke plasings