|

AfriForum eis verduideliking oor vrot vertaalde periodieke tabel

Die burgerregte-organisasie AfriForum eis ’n verduideliking van die Gautengse departement van onderwys ná hoërskoolleerlinge in hul Junie-eksamen deur ’n vraestel moes worstel met ’n periodieke tabel van elemente wat uiters vrot in Afrikaans vertaal is.

In die tegniese wetenskappe-vraestelle vir gr. 10 en gr. 12-leerlinge het elemente soos Berillium (Be) byvoorbeeld verskyn as “wees”. Die element Gadolinium (Gd) is as “God” in Afrikaans omskryf en I (Jodium) is byvoorbeeld as “ek” vertaal.

Die departement het glo die vraestelle aan Google oorgelaat om te vertaal.

Carien Bloem, veldtogkoördineerder vir onderwys by AfriForum, het ’n brief aan David Makhura, Gautengse premier, gerig om ’n verduideliking vir die departement se nalatigheid te eis.

Volgens Bloem is dié soort foute onaanvaarbaar. “Afrikaans is ’n hoëfunksietaal met wetenskaplike terme en begrippe wat maklik bekombaar is. Om eksamenvraestelle bloot deur “Google translate” te vertaal, is uiters onprofessioneel.”

Bloem het ook daarop gewys dat dit nie die eerste keer is dat departementele eksamenvraestelle wemel van spelfoute nie en dat leerlinge se punte daardeur beïnvloed kan word. “Boonop is tegniese wetenskap is ’n nuwe vak en leerlinge was reeds op hul senuwees om dié vraestel aan te pak.”

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), het die vraestelle as skokkend en komies beskryf.

Vermeulen vermoed die departement is onder finansiële druk en wil nie geld spandeer op vakkundiges met die nodige taalvaardighede nie.

Soortgelyke plasings