AfriForum eis verduideliking vir wanprestasie van Gautengse LUR vir onderwys wat rassespanning skep


AfriForum het die nasionale departement van basiese onderwys dringend versoek om te bevestig of die LUR vir onderwys van Gauteng, Panyaza Lesufi, ’n verslag ingedien het om te verduidelik waarom die teikens vir die ontwikkeling van skole-infrastruktuur in dié provinsie, nie in 2016/2017 bereik is nie.
Volgens artikel 58C(3) van die Onderwyswet (Wet 84 van 1996) is ’n LUR verplig om jaarliks só ’n verslag in te dien om te verduidelik tot watter mate teikens wat vir die jaar en begroting gestel is, bereik is, en indien dit nie bereik is nie, watter maatreëls aangewend is om oplossings vir die voortspruitende probleme te vind.
Die ouditeur-generaal se verslag vir 2016/2017, dui aan dat die volgende teikens in die genoemde tydperk gestel en behaal is:
 

  Beplan Behaal
Nuwe skole gebou en voltooi 59 16
Skole van sanitêre geriewe voorsien 265 30
Skole deur die versnelde infrastruktuur voorsiening program van watertoevoer voorsien 280 29
Skole deur die versnelde infrastruktuur voorsiening program van elektrisiteit voorsien 620 0

Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, is dit nodig om veral in die geval van Gautengse skole te weet wat die redes vir die departement se wanprestasie is en waarom Lesufi nie in die openbaar hiervoor aanspreeklikheid aanvaar of aanspreeklik gehou word nie.

“Tans is daar toenemende spanning in verskeie gemeenskappe oor kinders wat nog nie vir die 2018 akademiese jaar by skole geplaas is nie. Die LUR gee voor dat taalbeleide wat leerlinge se reg tot Afrikaanse moedertaalonderrig erken en rassisme die rede hiervoor is, terwyl dit deur hom en sy departement se onvermoë om hulle wetlike verpligtinge na te kom, veroorsaak word,” sê Bailey.
“Die LUR speel met leerlinge en gemeenskappe se veiligheid deur van Afrikaanssprekendes sondebokke te maak en rassepolarisasie aan te hits. Hy skep só ook plofbare situasies wat deur ander ideoloë en populiste uitgebuit word. Ter wille van alle kinders en ouers wat betrokke is, sal AfriForum hom hiervoor tot verantwoording roep,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings