| |

AfriForum eis vrylating van gesin in kwarantynfasiliteit

Die burgerregteorganisasie AfriForum het laat gisteraand in ’n skrywe aan die Ministers van Gesondheid, Internasionale Betrekkinge en Samewerking, asook die Polisie geëis dat ’n gesin wat tans in ’n COVID-19-kwarantynkamp van die Gesondheidsdepartement in Groblersdal aangehou word, se wens om vir die virus getoets te word nie geweier mag word nie en dat hulle vrygelaat moet word om self te isoleer.

Die Nel-gesin het in Mosambiek vakansie gehou toe die staat van inperking aangekondig is en het ná vyf weke van selfisolasie in Mosambiek na Suid-Afrika teruggekeer. Met hul aankoms by die Lebombo-grenspos het lede van die SAPD hulle na ’n kwarantynkamp in Groblersdal geneem, ten spyte van die gesin se konsultasie met amptenare van die Suid-Afrikaanse Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking in Mosambiek.

Die amptenare by die fasiliteit het geweier om die gesin op hul eerste dag by die kamp vir COVID-19 te toets en het aangedui dat toetsing eers op die elfde dag ná hul aankoms sou plaasvind. Die fasiliteit is bouvallig en hou ’n gesondheidsrisiko in vir almal wat daar onder kwarantyn geplaas word. Wilde diere soos bobbejane loop vrylik rond ten spyte van die feit dat klein kinders op die perseel teenwoordig is. Verder is die gesin nie van basiese noodsaaklikhede soos kos, komberse, toiletpapier, skoonmaakmiddels en handdoeke voorsien nie. Die kraanwater is ondrinkbaar en die owerhede het slegs een bottel water per dag aan die gesin verskaf. Volgens die gesin het amptenare aangebied om kos en ander noodsaaklikhede vir hulle te gaan koop as hulle hul bankkaarte en PIN-nommers oorhandig.

“Dit is immoreel dat mense in hierdie kampe aangehou word en die owerhede bloot weier om hulle vir die virus te toets. Verder is hierdie fasiliteit haglik en maak inbreuk op die reg op menswaardigheid van enigeen wat daar moet bly. Die fasiliteit is ook teenstrydig met die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se aanbevelings vir kwarantynfasiliteite. AfriForum moes by hierdie saak intree – ons kan eenvoudig nie hierdie tipe magsvergrype deur die regeringsamptenare toelaat nie,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

AfriForum het verlede week geëis dat Sihile Zikalala, Premier van KwaZulu-Natal, se dreigement dat mense wat positief vir COVID-19 toets in kwarantynkampe gedwing sal word, ongeag of hulle doeltreffend kan selfisoleer, teruggetrek moet word. Zikalala  het dié dreigement teruggetrek ná AfriForum ’n prokureursbrief daaroor gestuur het aan Nkosazana Dlamini-Zuma, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake. Omdat die regulasies wat Dlamini-Zuma uitgereik het regeringsamptenare steeds bemagtig om presies te doen wat Zikalala gedreig het om te doen, gaan AfriForum egter voort met beplande regsaksie in dié verband.

“Gevalle soos dié van die Nel-gesin bewys weer eens dat hierdie nasionale regulasies irrasioneel is. Dit is ’n skending van die mees basiese vryhede en waardigheid van mense en kom neer op maatreëls wat op geen wyse verantwoordbaar is in enige demokrasie wat deur die beginsels van vryheid, regverdigheid en die reg gerig word nie,” sluit Roets af.

Soortgelyke plasings