|

AfriForum en AfriForum Jeug dien voorstelle in vir UP- taalbeleid

Die taalhersieningsproses wat tans deur die Universiteit van Pretoria (UP) gevolg word, word deur AfriForum as ʼn klad op die instelling se naam as setel van akademiese vryheid en hoë vlak akademiese denke beskou.

Dié kommentaar volg in reaksie op mediaberigte dat ʼn taalwerkgroep van UP feitlik eenparig aanbeveel het dat klasse en eksamens voortaan slegs in Engels aangebied moet word.

’n Onafhanklike liggaam, bekend as die “Onafhanklike Transformasiepaneel” is vroeër deur die raad van die universiteit op die been gebring ná ’n vorige besluit dat daar ’n liggaam moet wees om die instelling oor transformasie, insluitende taalbeleid en institusionele kultuur, te adviseer.

Die voorsitter van die paneel is regter Johann van der Westhuizen, voormalige regter van die Konstitusionele Hof en van die Noord-Gautengse Hoë Hof. Hy was ook betrokke by die skryf van Suid-Afrika se tussentydse en finale Grondwette.

AfriForum Jeug was deel van die paneel, maar het onttrek nadat hul pogings om insette te lewer, geïgnoreer is.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, berus die burgerregte-organisasie se standpunt oor die proses van die paneel onder meer op taalregte-diskriminasie, die tydsraamwerk vir insette, kosteberekenings en eentaligheid.

In die lig van die paneel se eenparige aanbeveling, meen Bailey dit wil voorkom of die UP voor ideologiese druk en anargiste se dreigemente van geweld swig. Volgens haar hoort dit nie by ʼn instelling wat akademiese vryheid en uitnemendheid hoog ag nie.

Verder bevraagteken AfriForum ook die toeganklikheid van die paneel se raadplegingsproses omdat die burgerregte-organisasie, wat volgens Bailey al vir jare lank direk met die UP-bestuur oor taal praat, via AfriForum Jeug van die proses verneem het.

“Ons verneem ander instellings met hoogstaande akademiese reputasies moes ook met omweë van die proses verneem, hoewel die universiteitsbestuur baie bewus van hul bestaan en belang is.”

Die paneel funksioneer volgens die UP onafhanklik van die bestuur en sal slegs aan die raad verslag doen by sy vergadering wat vir 22 Junie 2016 geskeduleer is. Die paneel se aanbevelings sal, in oorleg met die raad, ook aan die publiek bekendgemaak word.

Alle eksterne en interne belanghebbendes van die UP is genooi om voor 3 Junie 2016 voorleggings aan die paneel te doen. AfriForum en AfriForum Jeug sal onderskeidelik voorleggings indien en alles moontlik doen om Afrikaanssprekendes se regte aan dié en ander instellings te beskerm.

Dr. Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad (ATR), het aan Forum Nuus gesê dat dit belangrik is vir belangegroepe soos AfriForum om tot die bittereinde betrokke te bly by die tipe ‘taalstryd’. Hy se voorts dat dit ʼn teken van swakheid is indien die UP se besluit om die beleid te hersien, gedryf word deur politieke druk eerder as beginsels.

“Die wegdoen van Afrikaans by die UP kan moontlik studente wegjaag eerder as  ‘maatskaplike kohesie’ bevorder.”

Die huidige taalbeleid van die Universiteit van Pretoria is hier beskikbaar:

http://www.up.ac.za/media/shared/409/taalbeleid.zp84977.pdf)

 

Soortgelyke plasings