AfriForum en AfriForum Jeug moedig deelname aan konsultasieproses oor Steyn-beeld op UV-kampus aan


AfriForum en AfriForum Jeug moedig die publiek aan om deel te neem aan ’n konsultasieproses oor die toekoms van die standbeeld van pres. M.T. Steyn op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV).
Dít volg ná die universiteit vandag aangekondig het dat ’n openbare uitstalling tydens die Vrystaatse Kunstefees gehou sal word om te verseker dat die hersieningsproses en die standbeeld self die onderwerp van ingeligte, intellektuele bespreking sal bly tydens die tydperk van publieke deelname oor die standbeeld soos voorgeskryf deur die Wet op Nasionale Erfenishulpbronne.
Nadat enkele studente aanvanklik die verwydering van die beeld geëis het en die tydelike bedekking daarvan oorweeg is, het AfriForum en AfriForum Jeug reeds insette oor die toekoms van die beeld gelewer. Dié organisasies sal weer van die publieke deelnameproses gebruik maak om kommentaar te lewer en in die komende week ook bygestaan word om hul insette te kan gee.
Volgens beide organisasies is dit nodig om van studente se idees kennis te neem, máár hulle standpunte moet op ingeligte opinies gebaseer wees. AfriForum en AfriForum Jeug waardeer daarom dat die UV meer inligting op hul webwerf voorsien oor wie pres. Steyn was en waarom die beeld opgerig is. Meer moet egter gedoen word om te verseker dat kommentaar op kennis gebaseer is en nie op tydelike politieke agendas nie.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir erfeniskwessies swig Suid-Afrikaanse owerhede tans te maklik voor populiste se eise dat standbeelde verwyder moet word omdat hulle persepsies daaroor huldig, sonder dat diegene werklik moeite doen om die geskiedenis van die individue of die rol van standbeelde in die samelewing na behore na te vors.

“Geskiedenis en erfenishulpbronne soos standbeelde kan nie na willekeur deur elke generasie verander word om by een groep se subjektiewe mening op ’n spesifieke tydstip of magsagenda in te pas nie. Dit moet met oordeel bewaar word sodat komende geslagte ook hulle objektiewe interpretasie daarby kan voeg en van die soet en suur van die verlede kan kennis neem.”

AfriForum en AfriForum Jeug sal binnekort verdere aksies ter bewaring van die beeld aankondig.

Soortgelyke plasings