|

AfriForum en AfriForum Jeug vra insluiting van Afrikaans by Unisa-beleid

AfriForum en AfriForum Jeug neem kennis van ’n dokument van Unisa se bestuur wat aankondig dat alle personeel en studente aan dié inrigting ten minste een Afrikataal moet ken, maar versoek dat Unisa na hulle eie vorige taalbeleid terugkeer en ook Afrikaans by die Afrikatale insluit, soos wat alle betrokke staatsdepartemente ook reeds doen.

AfriForum en AfriForum Jeug veg reeds jare lank teen ’n eentalige Engelse taalbeleid by Unisa.  Hulle appèlsaak teen die uitsluiting van Afrikaans is in November 2019 aangehoor en uitspraak is voorbehou.

Die feit dat Unisa nou met ingrypende taalaanpassings vorendag kom, is uiters voortydig – dit sou sin maak om vir die uitspraak te wag en dan nuwe vereistes aan die personeel en studente te stel, maar ten minste gee Unisa nou toe dat hulle argumente in die hofsaak oor die onnodigheid en die koste van veeltalige onderrig en kommunikasie verkeerd was.

AfriForum en AfriForum Jeug wil toesien dat die taalregte van die sowat 90% Suid-Afrikaners vir wie Engels nie ’n moedertaal is nie, wel in ag geneem en beskerm sal word, hierdie aankondiging van Unisa is wel ’n stap in dié rigting, maar dan moet Afrikaans ook ingesluit word.

“Verder is ons ook bekommerd dat hierdie verwikkeling verwarring en onsekerheid onder personeel kan skep rakende hul toekoms by dié instelling indien hulle sou besluit om nie ’n Afrikataal soos deur Unisa voorgeskryf aan te leer nie,” sê Bernard Pieters, bestuurder van AfriForum Jeug.

Soortgelyke plasings