AfriForum en AfriSake bied inligtingsessie oor grondonteiening in Kimberley aan


AfriSake het in samewerking met AfriForum op Woensdagaand, 18 April 2018, ’n inligtingsessie oor onteiening sonder vergoeding aangebied. Dié sessie het voorsien aan die publiek se behoefte aan akkurate inligting oor die huidige proses om onteiening sonder vergoeding te wettig.
Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, het mense gewaarsku om aan die openbaredeelnameproses van die grondwetwysigingskomitee deel te neem deur protes teen die wysiging van die Grondwet aan te teken. Dit moet duidelik gemaak word dat onteiening sonder vergoeding ’n onreg is en op geen wyse geregverdig kan word nie.
Charles Castle, bestuurder van die arbeidsregsadvieseenheid by AfriSake, het die gehoor verseker dat AfriSake nie by onteiening sonder vergoeding sal berus nie.

“Eiendomsreg het ’n hede, ’n verlede en ’n toekoms, en daarom sê ons nee vir die ANC en nee vir die EFF as hulle ons van daardie toekoms wil beroof. Ons is geregtig op ’n toekoms wat seker en veilig is. Onteiening sonder vergoeding is diefstal wat teengestaan moet word.”

Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, het verduidelik dat die heersende narratief vals is dat wit boere 80% van Suid-Afrika se grond besit. Hy het by tydens die inligtingsessie deur middel van kaarte aangetoon dat baie van die grond in werklikheid in staatsbesit is en mense aangemoedig om teen die onreg van onteiening sonder vergoeding saam te staan.
Gonda Louw, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, het deur middel van ’n praktiese blitsgids verduidelik wat ’n mens te doen staan as grondbesetters jou eiendom betree. Die belangrikste is om dít te verhoed, en daarvoor moet ’n mens altyd bewus wees van wat op jou eiendom aangaan.

“Ons mag en moet ons eiendom beskerm, en daarvoor moet ons toegerus wees. As hierdie inligtingsessie daartoe kon bydra, het ons in ons doel geslaag,” sê Louw.

Raak by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Noord-Kaap” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings