AfriForum en AfriSake dringend in hof om kragafsluitings te voorkom


AfriForum en AfriSake nader môre die hooggeregshof in Pretoria vir ’n dringende interdik teen Eskom se planne om die kragtoevoer na agt munisipaliteite op 5 Januarie 2017 af te sny weens dié munisipaliteite se versuim om hul rekeninge by Eskom te vereffen.
Dit volg nadat dit oor die Kersseisoen aan die lig gekom het dat Eskom van plan is om kragtoevoer na inwoners van verskeie munisipaliteite in die Noord-Kaap, Noordwes en Vrystaat af te sny omdat sekere munisipaliteite versuim het om gelde wat vir elektrisiteitsverskaffing van inwoners ingevorder is, aan Eskom oor te betaal. Miljarde rande se elektrisiteitsgelde is deur hierdie munisipaliteite aan Eskom verskuldig.
Op 22 en 23 Maart vanjaar gaan die hooggeregshof ’n omvattende aansoek van AfriForum en AfriSake aanhoor om te bepaal of Eskom se praktyk om inwoners te benadeel weens die versuim van swakbestuurde munisipaliteite om hul verpligtinge na te kom, grondwetlik is.
AfriForum en AfriSake is van mening dat Eskom, as ’n staatsbeheerde maatskappy, ander regsmiddele tot sy beskikking het om sy tariewe in te vorder. Om betalende en wetsgehoorsame inwoners en instansies te straf vir die nalatigheid van onbekwame munisipale administrasies maak nie sin nie. Die benadering van Eskom om te dreig met summiere kragafsluitings van volledige munisipale gebiede is ’n drakoniese en ongrondwetlike maatreël wat neerkom op kollektiewe benadeling van betalers, sowel as wanbetalers.
Willie Spies, regsverteenwoordiger van AfriForum en AfriSake, sê in ’n verklaring die burgerregte-organisasies kan nie toelaat dat betalende dienstegebruikers, ouetehuise, hospitale, skole en nooddienste benadeel word weens die kultuur van wanbetaling onder sekere inwoners en die wanbestuur van munisipaliteite deur onbekwame amptenare nie.

“Eskom het vroeër onderneem om nie met kragafsluitings voort te gaan voor die afhandeling van die hofaansoek in Maart nie. Die planne om nou agt munisipaliteite se krag af te sny is strydig met Eskom se vroeëre onderneming; daarom nader ons nou die hof vir dringende hulp,” sê Spies.

Die verrigtinge in die hooggeregshof in Pretoria begin om 10:00 op Dinsdag, 3 Januarie 2017.

Soortgelyke plasings