|

AFRIFORUM EN APTEKERSGROEP WIL HÊ HOF MOET IVERMEKTIEN WETTIG VERKLAAR

Deur Alet Rademeyer

’n Ingrypende wending in die stryd vir die wettige gebruik van ivermektien is pas aangekondig.

Nuwe inligting oor gebreke aan die kant van die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) om ivermektien vir menslike gebruik te registreer, kan tot ’n deurbraak lei dat die middel wel binnekort in Suid-Afrika in die stryd teen COVID-19 gebruik kan word.

AfriForum en sy regspan het onlangs tot die gevolgtrekking gekom dat dié middel – wat gebruik kan word om mense te behandel wat COVID-19 opdoen – nog altyd wettig was, omdat SAHPRA nooit toegesien het (soos wat die Wet op Medisyne en Verwante Middels 101 van 1965 voorskryf) dat ’n Staatskoerant-kennisgewing gepubliseer word wat registrasie van ivermektien as medisyne vereis nie. Boonop het SAHPRA dié feit tot dusvêr van die publiek weerhou.

Hannes Strydom, bekende apteker, eienaar van die Pharma Valu-apteekgroep en oud-Springbok-rugbyspeler – het pas ’n nuwe hofaansoek gebring om dié feite voor die hof te plaas wanneer AfriForum en verskeie ander organisasies, ook die ACDP, se hofaansoeke gelyktydig op 29 tot 31 Maart vanjaar aangehoor gaan word. AfriForum sal nou sy hofaansoek wysig om voorsiening te maak vir dié nuwe feite en om ’n verklarende bevel te verkry dat ivermektien ’n wettige skedule 3-medisyne is wat nie registrasie by SAHPRA verg nie.

AfriForum het in sy eerste aansoek ’n skikking met SAHPRA bereik wat dit vir dokters moontlik maak om behandeling met ivermektien te begin gelyklopend met die indiening van ’n artikel 21-aansoek, in gevalle waar dringende toegang tot ivermektien volgens die oordeel van die dokter vir ’n pasiënt nodig is. SAHPRA het dit as “beheerde en gekontroleerde deernis-toegang” tot ivermektien beskryf, maar dit is deur talle medici en lede van die algemene publiek afgeskiet omdat die aansoekproses as totaal ontoereikend en tydrowend beskryf is.

Dit is op grond hiervan dat ’n groep van 55 gesondheidswerkers nog ’n hofaansoek gebring het om dit moontlik te maak dat artse dit vryelik kan voorskryf sonder om eers by SAHPRA aansoeke in te dien.

Willie Spies, regsverteenwoordiger van die belanghebbendes in dié saak, verduidelik dat die Wet op Medisyne en Verwante Middels 101 van 1965 die verspreiding van medisyne en mediese produkte reguleer. Die wet maak daarvoor voorsiening dat sekere medisynes geregistreer moet word vóórdat dit verhandel mag word.

“’n Belangrike aspek van die verbod op ongeregistreerde medisyne is dat ongeregistreerde medisyne nie outomaties onwettig is nie. Daar is ’n plig op die reguleerder om eers ’n kennisgewing in die Staatskoerant te publiseer. Dié kennisgewing gee aan medisyneverskaffers en apteke, of farmaseutiese maatskappy wat wil aanhou om ’n bepaalde medisyne te lewer, ses maande tyd om die medisyne te registreer. Dit is eers wanneer die ses maande tydperk ná kennisgewing in die Staatskoerant verstryk het dat ’n ongeregistreerde medisyne onwettig raak. Medisyne is dus nie outomaties bloot onwettig nie. Dit moet eers afgekondig word as ’n registreerbare medisyne, en eers wanneer dit opgeroep word en nie geregistreer is nie raak dit onwettig,” verduidelik Spies.

SAHPRA het egter in die 30 jaar wat ivermektien al beskikbaar is en die medisyne as skedule 3-medikasie gelys is nooit ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer om dit onwettig te verklaar nie. Ivermektien is dus nie ’n registreerbare medisyne nie, maar is wel gelys in skedule 3 van die wet.

Spies sê medikasie kan nie van die publiek weerhou word wat hulle kan help nie. “Ons is in ’n wêreldwye pandemie gewikkel en daar moet na noodmaatreëls gekyk word. In die geval van ivermektien is daar genoeg bewyse en navorsing dat dit mense in die stryd teen COVID kan help én dat dit veilig is.”

Strydom sê apteke is betrokke by primêre gesondheidsorg en dit is tans in ’n krisis. “Ivermektien is wêreldwyd al deur miljoene mense gebruik in behandeling teen parasiete en dit is bewys om veilig te wees.

“Ons sien daagliks pasiënte in die land sterf, en daarom soek ons uitsluitsel om ivermektien vir pasiënte te kan gee wat daarby kan baat. Gegewe die huidige situasie is dit nie nodig dat die middel geregistreer hoef te wees nie. Die owerheid moet nou ingryp sodat mense gehelp kan word. Daar is buitendien nie nou ’n alternatief beskikbaar vir die behandeling van COVID-pasiënte nie.”

Strydom meen dit maak baie meer sin dat die middel plaaslik teen ’n bekostigbare prys saamgestel en vervaardig word, as wat onwettige weergawes daarvan die land ingesmokkel word en teen astronomiese pryse verhandel word.”

Barend Uys, AfriForum se hoof van navorsing, sê dit is duidelik dat ivermektien ’n middel is wat ingevolge wetgewing wel vrylik deur ’n dokter voorgeskryf mag word. AfriForum gaan daarom voort met ons hofsaak om ’n verklarende bevel in dié opsig te bekom. “Ivermektien is veilig, is reeds deur ander regerings vir die behandeling van COVID-19 goedgekeur en bewyse dat dit doeltreffend is, word al meer. Daar is geen rede waarom dokters verhoed of hulle belemmer moet word om hul oordeel aan die dag te lê en dit te gebruik om lewens te probeer red nie. Elke dag wat verbygaan sonder dat ivermektien optimaal in die stryd teen COVID-19 aangewend kan word, kos die lewens van geliefdes. Ons wil verhoed dat dieselfde fout met ivermektien en COVID-19 herhaal word as wat destyds met antiretrovirale middels vir die behandeling van MIV/vigs gemaak is nie.”

Intussen is druk ook besig om teen die regering op te bou oor die hantering van entstowwe teen COVID. Daar is woede oor die regering die invoer en verspreiding daarvan sentraliseer, terwyl van die entstowwe wat wel bekom is boonop onttrek moes word omdat dit blyk nutteloos te wees teen die Suid-Afrikaanse variant van die koronavirus.

In die jongste debakel word openbare hospitale ook oorstroom en moet duisende gesondheidswerkers omdraai omdat daar nie genoeg entstof vir almal is.

Soortgelyke plasings