AfriForum en Bloemhof-gemeenskap loods skoonmaakaksie as voorbereiding vir internasionale hengelkompetisie


Die AfriForum-tak in Bloemhof het in samewerking met inwoners en plaaslike ondernemings ’n skoonmaakaksie in dié dorp geloods met die oog op die Karphengelwêreldkampioenskap wat die afgelope naweek by die Bloemhofdam afgeskop het. Dié kampioenskap vorm deel van die vierde Wêreldhengelspele wat vanjaar in Suid-Afrika aangebied word. Nóg ’n kategorie van dié spele, die Voerderhengelwêreldkampioenskap, vind ook in Februarie by die Bloemhofdam plaas.

Aangesien die Lekwa-Teemane Plaaslike Munisipaliteit sy pligte teenoor die netheid van Bloemhof versuim, dien AfriForum se skoonmaakaksie nie slegs as voorbereiding vir die hengelkompetisie nie, maar ook om Bloemhof voortdurend skoon te hou. Tydens die eerste dag van dié aksie is meer as 12 ton vullis reeds uit die dorp verwyder. Dit is kommerwekkend dat die rommel wat in die dorp gestrooi word só buite beheer geraak het.

“Bloemhof se inwoners wou nie ’n swak indruk tydens die internasionale hengelkompetisie skep nie – daarom het AfriForum se Bloemhof-tak besluit om inisiatief te neem en self die skoonmaakaksie te loods. Die gemeenskap se samewerking is werklik ’n riem onder die hart. Die tak het heelwat skenkings van plaaslike ondernemings ontvang wat onder meer vir lone, voedsel en toerusting aangewend is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
“Die AfriForum-buurtwag is ook gereed om na besoekers se veiligheid om te sien tydens die kompetisie. Dié buurtwag het homself tydens die onlangse onluste in Bloemhof uitstekend van sy taak gekwyt. Lede van die buurtwag bly toenemend ’n voorbeeld van ’n gemeenskap wat besef dat hulle self verantwoordelikheid vir hul veiligheid moet neem,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings