AfriForum en DearSA bevraagteken die deursigtigheid van kommentaarproses oor gesondheidsregulasies

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die openbaredeelnameplatform DearSA is bekommerd oor die regering se hantering van die openbaredeelnameproses rakende kommentaar op die nuwe voorgestelde wysigings aan die gesondheidswet.

Dit volg berigte dat die Departement van Gesondheid net 15 000 openbare kommentare ontvang het.

AfriForum en DearSA betwis hierdie syfer aangesien hierdie twee organisasies meer as 310 000 kommentaar deur hul amptelike openbaredeelnameplatforms ontvang het en al hierdie kommentaar direk aan die Departement van Gesondheid gestuur het.

“Hierdie voorgestelde regulasies is uiters deurdringend en sal die Departement van Gesondheid toelaat om mense teen hul wil in kwarantynkampe te dwing en hulle ook te dwing om onder meer sekere mediese behandelings te ontvang. Die feit dat dit lyk of die departement nou besig is om die proses van openbare deelname in die wiele te ry, wek groot kommer,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogbestuurder.

“Ons verwerk steeds die finale resultate van ongeveer 283 000 kommentaar, maar voorlopige aanduidings toon dat meer as 95% van kommentaar die voorgestelde gesondheidswet-regulasies heeltemal verwerp. Van die res ondersteun 3% dit nie ten volle nie, terwyl slegs ongeveer 2% dit ondersteun. Dit is duidelik dat hierdie voorgestelde wysigings nie openbare steun geniet nie, maar eerder openbare opposisie. Ons is eweneens bekommerd oor die wyse waarop die regering die openbaredeelnameproses benader en bestuur het,” sê Gideon Joubert, uitvoerende hoof van DearSA.

AfriForum en DearSA is bereid om hierdie regulasies in die hof te beveg indien nodig.

Soortgelyke plasings