|

AFRIFORUM EN DIE DOV BOTSWANA BEHAAL SUKSES MET DIE MANDAMUS-AANSOEK

Sukses is bereik in die mandamus-aansoek wat deur die burgerregteorganisasie AfriForum teen die Departement van Justisie gebring is. Die eenheid het in opdrag van die Direkteur van Openbare Vervolgings (DOV) in Botswana op 14 Augustus 2020 ’n mandamus-aansoek geliasseer waarin versoek is dat die departement bloot sy plig moet doen en die Botswana-regering moet inlig rakende die status van sy versoek vir wedersydse regshulp wat reeds op 25 September 2019 deur die Botswana DOV geliasseer is. Die versuim het daartoe gelei dat die DOV Botswana verplig was om ’n aanklag terug te trek teen Wilhelminah Maswabi omdat hulle onbewus was van die vordering met hulle versoek.

Die minister van Justisie het op 25 Augustus 2020 in ’n mediaverklaring aangedui dat ten spyte van goeie verhoudinge tussen die departement en die verskaffing van wedersydse regshulp in ander sake, sal hierdie aansoek geopponeer word.

Hierdie uitlating was bloot ’n ydele dreigement aangesien geen opponerende stukke deur die regering geliasseer was nie. Die aansoek is toe op die onbestrede rol vir 7 Julie 2021 in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria geplaas. Buite die tydsbestek geoormerk vir die liassering van opponerende stukke, liasseer die regering in April 2021 ’n kennisgewing om te opponeer maar geen opponerende verklaring nie.

Op 2 Julie 2021 is ’n skrywe vanaf die staatsprokureur ontvang dat die regering gewillig is om die nodige samewerking te gee. Die departement het versoek dat die aangeleentheid van die rol verwyder moet word met die oog op ’n ronde tafelgesprek tussen die partye ten einde die aangeleentheid te besleg.

In ’n skrywe gerig aan die departement op 5 Julie 2021 is aangedui dat ons toestem indien die gesprek sou plaasvind voor die hofdatum van 7 Julie 2021.

Op 6 Julie 2021 om middernag is ’n boodskap ontvang dat die regering hulle versoek terugtrek en voortgaan om die aansoek te opponeer.

Die regter het op 7 Julie 2021 die aansoek toegestaan en die gevolg is dat die Departement van Justisie binne 14 dae die inligting moet verskaf en die koste van die geding moet dra.

“Ondervinding het nou geleer dat die regering uit eie inisiatief baie moeilik die regte ding doen. Dit is die reël eerder as die uitsondering dat die regering deur middel van hofbevele gedwing moet word om hulle werk te doen,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Ten spyte van die ekonomiese werklikhede is die Departement van Justisie nou opgesaal met ’n kostebevel wat hulle kon verhoed het deur bloot hulle plig te doen. Hierdie is die derde suksesvolle mandamus-aansoek gebring deur hierdie eenheid teen die regering in omstandighede waar regeringsowerhede nie hulle pligte nagekom het nie. In al drie gevalle is kostebevele toegestaan.”

Soortgelyke plasings