|

AfriForum en gemeenskap laat grondgrypers op hul neuse kyk

AfriForum het in samewerking met rolspelers in die Witrivier-distrik weer eens ’n poging tot onregmatige grondbesetting die nekhou toegedien. Dít volg nadat ’n dringende hofbevel op 28 Augustus 2019 bekom is teen ’n groot groep mense wat Gustav Kruger se grond onwettig betree en begin het om strukture op te rig.

Kruger het gepoog om ’n saak teen die betreders aanhangig te maak, maar die polisie in Witrivier het aanvanklik geweier om die klagte te aanvaar. Ná volgehoue druk het die polisie ’n saak geopen, maar nie die nodige stappe gedoen om die misdrywe hok te slaan en Kruger se eiendom te beskerm nie.

AfriForum, privaat sekuriteitsmaatskappye en ander rolspelers het op Kruger se versoek ingetree en die gebied beveilig deur onder meer beplanningsessies, observasieposte en intensiewe patrollies.

AfriForum het ook die Rooimiere betrek en die strukture op Kruger se grond is vanoggend verwyder.

“Die SAPD se toenemende versuim om die eienaar van die grond wat onregmatig van hom/haar ontneem word, by te staan, is vreesaanjaend. AfriForum is reeds besig om met sy regspan te konsulteer om, soos in ander gevalle van versuim, die SAPD en die minister van polisie verantwoordelik te hou vir die kostes om die betreders en hul onvoltooide strukture te verwyder,” sê Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid.

“Die feit dat die gemeenskap mekaar ondersteun het, het grotendeels bygedra tot die sukses wat vandag bereik is. Die beskerming van eiendomsregte bly ’n groot prioriteit vir AfriForum. AfriForum sal volhou om hierdie reg op alle gebiede te beskerm,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se veiligheidshoof vir die noordstreek.

Soortgelyke plasings