AfriForum en gemeenskap pas druk toe om Tswaing-watertoevoer te herstel


Die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit bly steeds in gebreke om water aan Delareyville te verskaf, ten spyte daarvan dat Eskom die kragtoevoer na die pompe reeds ’n paar dae gelede weer aangeskakel het. Die gemeenskap, onder leiding van AfriForum en die DA, het weer eens hande gevat om druk op die munisipaliteit te plaas. AfriForum het ’n tweede prokureursbrief aan die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit gerig om te eis dat die waterpompe aangeskakel en die stopkrane oopgedraai word sodat Delareyville se watertoevoer herstel kan word.

Aangesien daar geen lopende water beskikbaar is nie, verskaf inwoners met boorgate en nabygeleë boere water aan Delareyville. ’n Krisis het bykans ontstaan toe die ouetehuis se boorgat opdroog, maar die gemeenskap sorg dat hulle nie sonder water bly nie. Omliggende DA-takke het water in bottels en kanne ingesamel en dit is deur AfriForum-lede versprei.
Intussen het AfriForum se Delareyville-tak ’n kontrakteur genader om ’n  oudit van dié dorp se waterstelsel te doen en ’n verslag daaroor te skryf. Die verslag sal ook aan al die belanghebbendes gestuur word.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, is die waterstelsel in ’n haglike toestand. “Daar is genoeg pompe en water, maar die gebrek aan instandhouding en bitter min kundigheid het die hele stelsel feitlik tot niet laat gaan.”
“Die gemeenskap kan nie langer instaan vir die dienste waarvoor die munisipaliteite betaal word nie. Dit is hartverskeurend om te sien hoe die mense op jou afstorm as jy met watervoorraad stilhou en hoe groot die teleurstelling is as dit opraak en almal nie iets ontvang het nie. Sowel AfriForum as die DA sal beslis aanhou om druk op die munisipaliteite te plaas om hul pligte na te kom,” sluit Pretorius af.

Soortgelyke plasings