|

AFRIFORUM EN KGETLENGRIVIER-INWONERS WIL ’N KOÖPERATIEWE MODEL VIR MUNISIPALE SELFBESTUUR ONTWIKKEL

Deur Alet Rademeyer

Die aksiegroep Kgetlengrivier Besorgde Inwoners (KBI) en gemeenskappe van Koster en Swartruggens het vir ander gemeenskappe gewys dat munisipale dienste wel in gemeenskappe se eie hande geneem kan word en dié groep, sowel as AfriForum, wil munisipale bestuurders en amptenare wat nie hul pligte nakom nie, agter tralies sien.

AfriForum en lede van die KBI het vandag tydens ’n mediakonferensie aangekondig dat hulle hofstukke gaan beteken op die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit en Joseph Mogale, die munisipale bestuurder van dié munisipaliteit.

Dié hofaksie het ten doel om uitvoering te gee aan die hofbevel waarin die Noordwes Hooggeregshof in Mmabatho ’n vonnis van 90 dae tronkstraf aan Mogale opgelê het indien hy of die munisipaliteit nie bepaalde vereistes binne ’n sekere tyd nakom nie.

Dit sluit in dat:

  1. Die storting van rou riool in die Elands- en Kosterrivier binne tien weeksdae vanaf die datum van die bevel opgeklaar word en dat die munisipaliteit en munisipale bestuurder alle nodige stappe sal neem om te verseker dat rou riool nie in dié riviere of op die grond rondom die onderskeie rioolwerke by Koster en Swartruggens gestort word nie.
  2. Die munisipaliteit onmiddellik moet ophou om pype, slote of vore te gebruik om rou riool van Koster en Swartruggens na die riviere te herlei.
  3. Die munisipale bestuurder of munisipaliteit binne 11 weeksdae vanaf die datum van die hofbevel ’n verslag moet saamstel oor stappe wat hulle geneem het om die storting van rou riool in die riviere te verhoed en hoe hulle beplan om dit in die toekoms te voorkom.

AfriForum en die KBI is van mening dat Mogale die bevel willens en wetens verontagsaam het en hom aan minagting van die hof skuldig gemaak het.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê die nienakoming van hofbevele moet gestraf word. “Dit kom neer op ’n ondermyning van die gesag van howe. Die feit dat riool steeds in die Koster- en Elandsrivier instroom, kom neer op ’n misdaad en die munisipale bestuurder moet daarvoor vervolg word.”

Die KBI is verlede jaar gedwing om in te gryp en die hof te nader weens die Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit se wanbestuur en swak dienslewering. Hulle het regsgeskiedenis gemaak deur dié aanvanklike hofbevel teen die munisipaliteit te bekom en daarna ’n skikking te bereik om beheer oor die water- en riooldienste tydelik oor te neem.

Volgens Carel van Heerden, voorsitter van die Kgetlengrivier-belastingbetalersvereniging en sakeman van Koster, was inwoners verlede jaar gelukkig as hulle elke derde dag ’n uur lank water gehad het. Die munisipaliteit het ook ’n rioolaanleg van R144 miljoen op Koster laat bou wat volgens Van Heerden skaars ’n dag doeltreffend gewerk het. Boonop is inwoners se drinkwater met onbehandelde rioolvuil besoedel.

Die hofbevel maak voorsiening daarvoor dat die gemeenskap self die herstelwerk doen, die munisipaliteit hulle vergoed vir die koste wat aangegaan word, en dat ’n diensverskaffer dan oorneem om namens die munisipaliteit die aanlegte volhoubaar te bedryf.

“Dit was ’n historiese dag toe ons die dienste op 2 Januarie oorgeneem het. Ons het net een doel daarmee gehad en dit was om dienste aan die hele gemeenskap van Koster en Swartruggens te bied. Ons het die plaaslike gemeenskappe ook ingetrek wat tot ’n spanpoging gelei het.”

Andreas Peens, prokureur van Koster, sê “ons het geen ander keuse gehad as om in te gryp nie. Ons is in hierdie gemeenskap vir hierdie gemeenskap. Ons het dit gedoen om ’n beter toekoms vir ons gemeenskap te skep.”

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê Koster stel ’n voorbeeld vir ander gemeenskappe oor wat gedoen kan word. “Ons wil hê dat munisipale bestuurders die boodskap moet kry dat daar gevolge is indien hulle nie hul werk doen nie.

“Daar is groot probleme in plaaslike munisipaliteite wat totaal in duie stort. Net 13% van munisipaliteite kry skoon oudits wat dui op enorme korrupsie, gebrek aan kundigheid en kaderontplooiing. Die realiteit is as jy niks doen nie, gaan niks gebeur nie.”

Daarom het AfriForum vandag ook die stigting van Pionier Dienstemaatskappy aangekondig.

Volgens Johan Kruger, hoof van Gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is Pionier ’n maatskappy wat gestig is om op ’n rewolusionêre manier selfbestuur in gemeenskappe te bevorder. “Dié maatskappy is die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Vanweë AfriForum se werk en betrokkenheid in gemeenskappe regoor die land is ons deeglik bewus van die swak gehalte van munisipale dienste, veral op die platteland. Pionier is gestig om hierdie stand van sake op te los.”

Die beginsel waarop dit geskoei is, is dat ’n koöperatiewe model ontwikkel moet word waarvolgens munisipale dienste self verrig kan word namate dienslewering verval. Die dienste sluit in die bestuur van waterhulpbronne en die lewering van skoon drinkwater, rioolbestuur, vullisverwydering en -terreinbestuur asook elektrisiteitsvoorsiening.

Volgens Kruger sal Pionier daarop fokus om plaaslike sakeondernemings, spesialiste en persone te betrek en kundiges in die gemeenskap te koöpteer om op verskeie maniere dienste aan alle gemeenskappe te lewer. Die model waarvolgens die onafhanklike dienste gefinansier sal word, moet nog verfyn word.

Kriel sê munisipale dienslewering kan nie deur die howe geveg en afgedwing word nie. “’n Politieke oplossing is vir hierdie probleme nodig en daarom word daar ook op hoër vlak met die regering hieroor gepraat.”

Soortgelyke plasings