|

AfriForum en kie patrolleer Fochville om infrastruktuur te beskerm

AfriForum se Wes-Rand-steunkring het die afgelope naweek (Vrydag, 13 September) ’n massapatrollie gehou om die gebied se infrastruktuur teen vandale te beskerm. Dié dorp loop gereeld deur onder kabeldiefstal en woonbuurte se kragbokse word dikwels beskadig. As gevolg hiervan sit inwoners soms vir dae lank sonder krag.

Altesaam 84 patrolleerders het honderde kilometers in 50 voertuie afgelê om Fochville te fynkam. Die patrolleerders het eerste patrollies deur die dorp gery, waarna hulle oor die landelike dele van Fochville gewaak het.

Talle rolspelers het kragte saamgesnoer om te verseker dat dié patrollie ’n sukses is. AfriForum se Wes-Rand-steunkring bestaande uit buurtwagte van Fochville, Roodepoort, Johannesburg-Noord, Krugersdorp en Randfontein was almal by die patrollie betrokke. Die aksie is boonop deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) ondersteun, asook ander veiligheidsrolspelers soos Gladiators Security Services, CPI Security, Electro Security Services en ER24

Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaal Driehoek, sê dis belangrik dat almal hande moet vat om misdaad in dorpe hok te slaan. “Te danke aan die betrokkenheid van al die rolspelers was daar geen insidente tydens die patrollie nie. Sonder elkeen se bydra sou hierdie broodnodige aksie nie moontlik gewees het nie,” sê hy.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou plaaslike AfriForum-buurtwag betrokke te raak en ’n daadwerklike verskil in jou gebied te maak.

Soortgelyke plasings