|

AfriForum en Krugersdorp-gemeenskap gryp in om Bob van Reenen-stadion reg te ruk

Die jaar het skaars begin, maar AfriForum se tak in Krugersdorp het nie gras onder hul voete laat groei voordat hulle aan die werk gespring en moue begin oprol het nie.

Taklede, ander vrywilligers, plaaslike ondernemings en ’n paar politieke partye het Saterdag en Sondag ingespring om die Bob van Reenen-stadion te begin opknap. Gras is gesny, lang riete uitgekap en die atletiekbaan is skoongemaak. 

Omtrent 250 vrywilligers het Saterdag ingespring om die Rob van Reenen-stadion in Krugersdorp te begin opknap.

Martin Lombard, die takvoorsitter, sê die projek was ’n groot sukses met sowat 250 mense wat Saterdag opgedaag het om te help. “Die skoonmaak was ’n massiewe taak vir ’n klein groepie mense. Ons wil met hierdie projek beleggers lok sodat ons die bestuur van die stadion uiteindelik kan oorneem.”

Menige Krugersdorper kan vertel van die atletiekbyeenkomste of ander sportgeleenthede wat hulle by Bob van Reenen bygewoon het of self aan deelgeneem het. “Nou is daar basies net ‘n leë dop oor,” sê Lombard.

AfriForum het verlede jaar twee skrywes aan die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit gerig om die stadion te heropen. Alhoewel die heropening van die stadion ’n brandpunt in die gemeenskap is, lyk dit nie of die munisipaliteit enigsins haastig is om dit weer in gebruik te neem nie.

Die Bob van Reenen-stadion is eens as die juweel van Krugersdorp beskryf, maar staan al bykans twee dekades leeg en het stelselmatig al hoe verder verval. Die hekke is destyds, tot die konsternasie van die plaaslike gemeenskap, vir alle byeenkomste gesluit.

Bob van Reenen, na wie die stadion vernoem is, was ‘n bekende inwoner van Krugersdorp wat die grond waarop die stadion gebou is, geborg het en lewenslange gebruiksreg aan die inwoners gegee het.

Die stadion is gesluit kort na die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit op die been gebring is en daar aangekondig is dat Kaizer Chiefs voortaan hul sokkerwedstryde daar sou speel. Maar daar was êrens ’n kinkel in die kabel en Chiefs het op die ou einde nooit na Bob van Reenen geskuif nie. Verskeie berigte het verskyn waarin daar gesê is dat daar vir opknappings begroot is. Dit is egter nooit gedoen nie en die geld het soos mis voor die son verdwyn.

Oud en jonk het gehelp om die atletiekbaan skoon te maak.

Die stadion se spreiligte is in opdrag van ’n voormalige munisipale bestuurder verwyder, ’n transformator vir die stadion se krag is verwyder (waarskynlik gesteel) en beloofde opknappings van die kleedkamers het nooit gebeur nie. Die kleedkamers is in der waarheid geplunder. Dié verval het plaasgevind te midde van R314 miljoen wat die provinsiale department van sport in die 2014/15-begroting opsy gesit het vir verbeterings aan die stadion.  

Menige Krugersdorper kan vertel van die atletiekbyeenkomste of ander sportgeleenthede wat hulle by Bob van Reenen bygewoon het of self aan deelgeneem het. “Nou is daar basies net ‘n leë dop oor,” sê Lombard.

“Die infrastruktuur is omtrent heeltemal vernietig en na raming sal dit miljoene kos om die stadion na sy vorige glorie te herstel. Alles wat ons die afgelope twee dae gedoen het, is met die hulp en ondersteuning van die publiek gedoen,” sê hy.

Volgens Lombard is hulle baie dankbaar vir die ondersteuning van die publiek. “Almal het kom help, van oumas tot driejarige kinders het handjie bygesit en ons het uiteindelik meer as 24 ton se vullis en dies meer weggery. Ons gaan eerskomende naweek die werk voortsit.”

Enigiemand wat wil betrokke raak, kan die AfriForum-tak in Krugersdorp se Facebook-blad besoek of vir Lombard by 076-211-6148 kontak.

Soortgelyke plasings