|

AfriForum en Matteus bring hoop én raad oor boelies aan Republiek- en Kollegeparkleerders

AfriForum se Teenboelieveldtogspan en hul gelukbringer, Matteus, het Maandag (16 September) meer as 1 200 leerders van Laerskool Republiek in Meyerton en Laerskool Kollegepark in Vanderbijlpark toegespreek oor boeliegedrag. Dié besoeke is in samewerking met Solidariteit en Solidariteit Helpende Hand afgelê.

AfriForum se boodskap, geïnspireer deur die Christelike konsep van geestelike wapenrusting, het diep by die leerders inslag gevind. “Veilige skole bou veilige gemeenskappe, nie net nou nie, maar ook vir die toekoms. Ons wil hê elke leerder moet weet hoe om boelies te identifiseer en die gedrag stop te sit,” verduidelik Tania Scheepers, projekassistent vir Onderwys by AfriForum.

Die Teenboelieveldtog word al meer as sewe jaar lank by skole oor die hele land heen aangebied. Leandie Bräsler, gemeenskapsforumkoördineerder by AfriForum, verduidelik waarom hierdie projek so belangrik is: “Ons skep hoop en moedig kinders aan om mekaar met respek te behandel. Deur jong boompies te buig, vorm ons die toekoms van ons gemeenskappe.”

Volgens ’n studie oor boeliegedrag onder laerskoolleerders in Suid-Afrika wat in 2021 op BMC Research Notes gepubliseer is, gaan nagenoeg 58% van alle leerders op die een of ander manier onder boeliegedrag gebuk. Dit, meen Bräsler, beklemtoon die dringende behoefte aan groter bewusmaking van dié probleem.

Laerskool Republiek het Solidariteit genooi met die oog op die uitbou van ’n veilige en positiewe leeromgewing vir leerders by dié Christelike skool. “Ons wil graag verseker dat ons leeromgewing aan elke leerder die geleentheid bied om hulself uit te leef en te ontwikkel om sodoende hul maksimum potensiaal te bereik,” verduidelik Marius Enslin, organiseerder van Laerskool Republiek. Hy hou vol dat leerders aan hierdie laerskool slegs hul leuse, “Ons bou ’n toekoms”, waarlik sal kan uitleef as elke leerder veilig voel in sy of haar leeromgewing.

Daarom is bewusmaking oor en kennis van boeliegedrag juis belangrik, meen hy. “Ons wil graag leerders wat tekens van boeliegedrag toon, identifiseer om hulle te help. Dit is noodsaaklik sodat hierdie leerders kan ontwikkel om ook ’n waardevolle rol in ons gemeenskap te kan speel,” sê Enslin.

Melanie Peters, waarnemende adjunk- en departementshoof by Laerskool Kollegepark, meen bewusmaking oor boeliegedrag onder kinders is uiters belangrik. “Dit is vir ons noodsaaklik om leerlinge te laat verstaan presies wat ’n boelie is en wat om te doen as jy geboelie word,” sê sy. Sy maan ook dat ouers en leerders te maklik die woord “boelie” gebruik sonder om die ware betekenis of omvang van ware boeliegedrag te snap en dat bewusmaking die nodige konteks aan die begrip gee.

Vir meer inligting oor AfriForum se Teenboelieveldtog en om die gratis teenboelie- en kuberboeliegidse af te laai, besoek www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings