AfriForum en Opinor stel verslag bekend oor China se toenemende invloed in Afrika

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die ideesentrum Opinor het vandag ’n verslag oor China se toenemende invloed op die Afrika-vasteland bekendgestel. Die verslag dui aan dat China se betrokkenheid by Afrika negatiewe gevolge vir die vasteland, sy gemeenskappe en die omgewing het. Dit sluit skade aan die omgewing, asook antidemokratiese praktyke, ’n gebrek aan deursigtigheid en onwettige optrede en die skending van arbeiders se regte in. China misbruik ook gevalle – waar Afrikalande misluk weens sosialistiese beleide of swak regering – om hul invloed uit te brei deur ongunstige voorwaardes te koppel aan enige ondersteuning wat dit aan lande gee wat desperaat na beleggings op soek is.

Opinor is deur AfriForum versoek om hoëvlaknavorsing oor China se betrokkenheid in Afrika – en spesifiek Suid-Afrika – te doen nadat dié organisasie verskeie navrae ontvang het oor Chinese werksaamhede in Suid-Afrika.

Die bevindinge het deel uit gemaak van gesprekke wat Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, vroeër vanjaar met verskeie belanghebbendes in die VSA gevoer het. AfriForum sal nou ook die verslag se bevindinge aan sowel plaaslike as internasionale belanghebbendes stuur om hulle in te lig oor die negatiewe rol wat China in Afrika speel.

President Cyril Ramaphosa het verskeie besoeke aan China gebring en ’n vennootskap en handelsooreenkoms met China aangekondig sonder om enige besonderhede oor die implikasies daarvan vir die Suid-Afrikaanse belastingbetaler of burger bekend te maak.

Die navorsing het onder meer die volgende bevind:

  1. Daar is ’n algehele gebrek aan deursigtigheid en inligting oor die ware omvang en voorwaardes wat aan China se finansiële ondersteuning aan Afrika gekoppel word. Dié gebrek aan inligting help om die korrupte elite te beskerm wat ’n rol in die inwerkingstelling van die projekte speel.
  2. China oefen oordrewe invloed uit oor die ekonomiese en politieke stelsel van (onder meer) Afrikalande deur ekonomiese aggressie en ander beïnvloedingswerksaamhede. Ander antidemokratiese praktyke sluit in die toestaan van spesiale voorregte aan Chinese maatskappye, wat lei tot nienakoming van wetgewing en die ontstaan van enklaves met ’n kultuur en wetstoepassing wat vreemd is aan die land waarin dit plaasvind.
  3. China se prioritisering van ekonomiese groei oor die beskerming van die omgewing het vernietigende gevolge. Die omgewingsintegriteit van Afrika word bedreig deur swak omgewingsbeheer deur China en ’n gebrek aan beheer oor sy multinasionale maatskappye. Chinese maatskappye en burgers is ook betrokke by onwettige, onvermelde en ongereguleerde visvangste in Afrikawaters, die stroop van bedreigde spesies en onwettige afkap van bome, met droewe gevolge vir die omgewing, biodiversiteit en die gemeenskappe van Afrika.

“Die gevallestudie oor die Musina-Makhado- Spesiale Ekonomiese Sone (MMSES) is ’n uitstekende voorbeeld van China se werkswyse in Afrika en die impak daarvan op plaaslike gemeenskappe. Daar is ’n algehele gebrek aan deursigtigheid en konsultasie met gemeenskappe. Irrasionele besluite word geneem, byvoorbeeld die inwerkingstelling van ’n steenkoolaangedrewe kragstasie wat nie eens op die geïntegreerde hulpbronplan ingesluit is nie. Die ontwikkeling gaan voort, hoewel ’n definitiewe volhoubare waterhulpbron nog ondersoek word – dít in ’n gebied wat reeds onder waterskaarste gebuk gaan en as die tuin van Suid-Afrika beskryf word. Die ontwikkeling sal ’n onomkeerbare en ernstige impak hê op voedselsekerheid, waterhulpbronne, en lug- en grondgehalte, en dit is daarom nie in gemeenskappe se belang nie,” sê Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor.

“Dit is belangrik dat mense wat die belange van Afrika ter harte neem van hierdie verslag sal kennis neem. AfriForum het ’n verantwoordelikheid om mense sowel plaaslik as internasionaal oor die bevindinge van die verslag in te lig. Ons hoop dat dié verslag die toepaslike belanghebbers sal aanspoor om in gesprek te tree en aksie te neem om die risiko’s te verminder en die negatiewe impak op gemeenskappe in Afrika te verminder,” sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum.

  • Lees die verslag hier.
  • Kyk die onderhoud met Barend Uys en Ernst Roets hier.

Soortgelyke plasings