AfriForum en Pretoria FM vat hande vir ’n skoner omgewing


Lede en personeel van die burgerregtewaghond AfriForum het op Vrydag 15 Junie 2018 in samewerking met Pretoria FM en ander rolspelers die gebied rondom Theron’s Vleisprodukte in Pretoria-Wes skoongemaak. Dié skoonmaakaksie het ten doel om omgewingsbewustheid te bevorder en is deur Pretoria FM van stapel gestuur.

“Nagenoeg 50 mense het aan die aksie deelgeneem wat meer as 100 sakke rommel opgetel het. Dit is ’n voorreg om aan projekte deel te neem wat ’n positiewe impak op die omgewing het en gemeenskappe betrek,” sê Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake.

Volgens Hennie Koortzen, stasiebestuurder by Pretoria FM, beplan die radiostasie om volgende jaar weer só projek aan te pak.

“Hierdie projek is in Junie aangepak juis omdat dit Wêreldomgewingsmaand is. Ons het gepoog om sodoende bewusmaking te skep, asook ’n voorbeeld te stel deur self aksie te neem. Pretoria FM bedank Theron’s Vleisprodukte vir hul betrokkenheid en ondersteuning.”

Solly Msimanga, burgermeester van die Tshwane Metro, het ook aan die projek deelgeneem.
Die volgende skoonmaakaksie vind op 22 Junie 2018 by Autohaus Centurion plaas.
Word jou dorp se vullis swak bestuur? SMS (R1) die naam van jou dorp na 45354 en gee AfriForum die mandaat om proaktief op te tree en ook ’n verskil in jou dorp te maak.

Soortgelyke plasings