AfriForum en SAPD verjaag EFF-grondgrypers in Witrivier


Die burgerregte-organisasie AfriForum se Witrivier-buurtwag het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) ’n beplande EFF-grondgryp gestuit deur betogende EFF-ondersteuners van munisipale grond te verwyder en uiteen te jaag.
Dít volg nadat Collen Sedibe, EFF-leier in Mpumalanga, verlede week op sy Facebook-blad die party se ondersteuners aangehits het om op 29 Januarie 2017 munisipale eiendom te beset.
Een van Sedibe se inskrywings lees: “The EFF will be providing you with free stands!”
60 polisielede, insluitend lede van die SAPD se onluste-eenheid, is na die gebied ontbied en het die skare met traangas uiteengejaag onderwyl die plaaslike buurtwag lugbystand gebied het. Sedibe en een ander EFF-lid is op die toneel gearresteer en na die polisiestasie in Nelspruit vervoer. Die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit het ’n strafregtelike saak van betreding en aanhitsing tot openbare geweld by die polisiestasie geopen.

“Ek wil die SAPD bedank vir hulle uitstekende diens, asook al die betrokke buurtwagte en persone wat bystand gelewer het,” sê Dian Pretorius, voorsitter van die AfriForum-buurtwag in Witrivier.

Die AfriForum-tak in Witrivier beplan ’n dringende vergadering met die SAPD om die voorval te bespreek en ondersoek die moontlikheid om addisionele AfriForum-buurtwagte in die Witrivier-omgewing te stig ten einde die gemeenskap teen grondgrype te beskerm.

Soortgelyke plasings