AfriForum en Solidariteit behaal eerste oorwinning in stryd teen sportkwotas

 

AfriForum en Solidariteit het bekend gemaak dat hulle die eerste oorwinning in die sportkwotasaak bereik het. Dit volg nadat Thulas Nxesi, sportminister, vandag aangekondig het dat die verbod wat op sportfederasies (SA Rugby, Krieket SA en Netbal SA) gelê is om internasionale toernooie aan te bied weens die feit dat hulle nie voldoende transformeer nie, opgehef is.
Dié aankondiging volg op AfriForum en Solidariteit se aankondiging van verlede week dat omvattende regsaksies geloods is om enige vorm van politieke inmenging in sport, wat insluit ʼn selfopgelegde kwotastelsel, onwettig te verklaar. AfriForum en Solidariteit voer aan dat die ooreengekome kwotas nie net strydig met die wet is nie, maar dat dit ook teen ooreengekome internasionale norme indruis.
AfriForum en Solidariteit vra in hul hofstukke dat die hof beveel dat die transformasiehandves as basis van die kwotastelsel, in soverre dit demografiese profiele nastreef, ongeldig verklaar word. Verder word daar versoek dat die hof beveel dat die ooreenkomste tussen die partye in soverre dit kwotas daarstel, ongeldig verklaar word en dat sportliggame verbied word om kwotas toe te pas wat vir spankeuses op nasionale, provinsiale, klub- en skoolvlak geld.
Volgens Solidariteit se Anton van der Bijl is hulle verheug oor die oorwinning en die besluit van die minister, maar dit is betreurenswaardig dat daar so ver gegaan moet word soos om litigasiestappe te neem om die minister en die sportfederasies te wys op die basiese verpligtinge as lid van die internasionale sportgemeenskap.

“Alhoewel die aankondiging as ’n oorwinning beskou kan word, is dit maar nog net die eerste stap op ʼn lang pad om Suid-Afrikaanse sport vry van politieke inmenging te maak. Ons gaan voort met ons litigasie-aksies ten einde die kwotastelsel ongeldig te verklaar. Ons, en die publiek, is moeg daarvoor dat transformasie in plaas van meriete die hoogste maatstaf geword het as dit kom by prestasiemeting. Elke lid van die publiek moet die fundamentele grondwetlike reg tot sport sonder politieke inmenging opeis,” het Van der Bijl gesê.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, druis die afdwinging van rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport direk in teen die reëls en regulasies van internasionale sportliggame.

“Alhoewel ’n oorwinning behaal is deurdat die verbod opgehef is, gaan AfriForum voort om binne maande ʼn afvaardiging na verskeie internasionale sportliggame stuur ten einde sport sonder politieke inmenging te verseker,” het Kriel gesê.

Soortgelyke plasings