|

AfriForum en Solidariteit dien klagtes in teen rassekwotas by die INF en EP

AfriForum en Solidariteit se veldtog teen kwotas in sport het verder momentum gekry met dié afvaardiging, onderleiding van Kallie Kriel, wat vandeesweek met lede van die Europese Parlement (EP) in Brussel, België vergader het om politieke inmenging in Suid-Afrikaanse sport te bespreek.

Hulle het ook vroeër dié week amptelike klagtes teen rassekwotas en politieke inmenging in Suid-Afrikaanse netbal by die Internasionale Netbalfederasie (INF) se hoofkantoor in Manchester, Engeland ingedien.

Beide liggame is daarop gewys dat die Suid-Afrikaanse regering polities in Suid-Afrikaanse sport se werksaamhede inmeng, asook op die feit dat ras ’n deurslaggewende rol in spankeuses speel.

Die afvaardiging het reeds klagtes by Wêreldrugby in Dublin, Ierland ingedien.

Hierdie week se indiening sal in die komende twee weke opgevolg word met die indiening van soortgelyke klagtes by die Internasionale Krieketraad (IKR), die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) en die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) se onderskeie hoofkantore.

Die publiek word aangemoedig om hul steun te wys en hul naam by die klagtes te voeg wat deur AfriForum ingedien gaan word deur die webtuiste te besoek of hul naam na 45113 te SMS (R1).

 

Soortgelyke plasings