| |

AFRIFORUM EN SOLIDARITEIT NADER HOF OOR DEPARTMENT VAN TOERISME SE RASSISTIESE FONDS

AfriForum en Solidariteit se regspan het vandag ’n aansoek in hul saak teen die Departement van Toerisme in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria beteken. Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa en Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van Toerisme, verlede jaar die Toerisme-ekwiteitsfonds (TEF) bekend gestel het as ’n instelling wat finansiering aan toerismeondernemings in swart besit verskaf tydens die COVID-19-inperking. Slegs ondernemings wat minstens 51% swart eienaarskap het, kwalifiseer vir lenings of toelae van dié fonds.

Buiten hulpverlening tydens die COVID-19-pandemie, het die fonds van sowat R1,2 miljard ten doel om skuldfinansiering te bied, om toelae beskikbaar te stel om aandele te bekom en om nuwe projekontwikkeling in die toerismebedryf vir swart entrepreneurs te vergemaklik.

“Die COVID-19-krisis het weer eens die kollig op die regering se rasgedrewe doelstellings geplaas. Dit is ondenkbaar dat die regering nou geld wil aanwend om nuwe ondernemings en projekte te befonds terwyl bestaande ondernemings in die bedryf dringend hulp benodig. Die ekonomiese krisis waarin hierdie ondernemings hulle bevind, is onder meer veroorsaak deur die streng COVID-19-regulasies wat deur die regering op die toerismebedryf toegepas word. AfriForum sal nie toelaat dat die regering die nood van mense in die toerismebedryf as geleentheid gebruik om hul transformasieagenda te dryf nie”, sê Jacques Broodryk, AfriForum se bestuurder van Veldtogte.

“Die krisis waarin die toerismebedryf gedompel is kan nie deur kaders met politieke konneksies misbruik word as ’n geleentheid om munt te slaan nie. Daar is verskeie kriteria wat eerder in ag geneem kon word, maar die regering is rasmal en vasgevang in ’n strik van pagsoekery en eng belange. Hulle bevorder hul eie prioriteite ten koste van die toerismebedryf en Suid-Afrika. Ons kan dit nie toelaat nie,” sluit Morné Malan, kommunikasiehoof by Solidariteit af.

Soortgelyke plasings