AfriForum en SOS pak gebreke van Gauteng-aanlynskoleregistrasieplatform


Die burgerregtewaghond AfriForum en die Solidariteit Beweging se Skole­ondersteuningsentrum (SOS) het kragte saamgespan om vandag ’n dringende prokureursbrief aan die Gautengse departement van onderwys te stuur rakende gebreke van die aanlynskoleregistrasieplatform. Dié platform open op 13 Mei 2019 vir 2020 se leerderregistrasies.

Beide organisasies is bekommerd oor die wyse waarop die aanlynskoleregistrasieplatform opgestel is: Volgens die departement en proeflopiestelsel maak dit glad nie voorsiening daarvoor dat ouers self kan besluit watter skool hul eerste keuse vir hul kinders is nie. Die skool wat geografies die naaste aan die ouers se woonadres geleë is, word ongeag die skool se taalmedium van onderrig, vakaanbod of selfs koshuisopsies bloot as primêre keuse aangebied.
Met dié dringende prokureursbrief vra AfriForum en SOS dat die stelsel aangepas of die proses uitgestel word totdat die stelsel hersien kan word sodat ouers wel op grond van hierdie aspekte ’n keuse kan uitoefen.
Verder voel albei organisasies sterk daaroor dat leerders wat vanjaar reeds vir gr. R by ’n laerskool geregistreer is voorkeur moet geniet vir gr. 1-plasing by dieselfde laerskool vir 2020.
AfriForum en SOS dring daarop aan dat die Gautengse onderwysdepartement voor of op 10 Mei 2019 op die brief moet reageer. Indien dit nie geskied nie, sal die organisasies verdere regsoptrede onderneem.

“Ons kan nie toelaat dat die Gautengse onderwysdepartement namens ouers oor die onderrig van hul kinders besluit nie. Dit is teenstrydig met ouers se regte en benadeel kinders ook in die proses,” sê Carien Bloem, AfriForum se projekkoördineerder vir onderwys.
“Verder is dit duidelik dat hierdie net nóg ’n manier is waarop suurstof weer aan die ideologiese vlam gegee word. Met hierdie stelsel probeer Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sy pogings voortsit vir die uitfasering van Afrikaans as medium van primêre en sekondêre onderrig ten gunste van eentalige Engelse onderrig. Hy speel steeds die raskaart (wat Afrikaanse onderrig betref) om ouers te oortuig dat die bestaan van Afrikaanse skole die rede is vir die departement se jaarlikse onvermoë om alle leerders te plaas terwyl hy goed weet dat die skuld by sy departement lê, wat onvoldoende skole bou en nie daarin slaag om genoeg moedertaalonderwysers op te lei nie,” sluit Bloem af.

Ouers kan op AfriForum se webtuiste onder die skakel “Gauteng-aanlynregistrasies 2020” of op sosiale media onder die hutsmerk VIRSKOLE (#VIRSKOLE) op hoogte van die situasie bly.

Soortgelyke plasings