|

AfriForum en Standerton-gemeenskap help om vervalle dorp te herstel

 

Die goeie werk wat AfriForum in Standerton doen word raakgesien en ons as gemeenskap waardeer dit. Sonder julle sou die dorp baie slegter af gewees het.

Só het Rudi Hamman, hoof van Laerskool Standerton, vandeesweek gesê oor die werk wat die burgerregte-waghond deurlopend, maar veral nou tydens die #VegEnBou-veldtog in dié dorp gedoen het.

Soos talle dorpe gaan Standerton gebuk onder swak dienslewering en grootskaalse besoedeling. Nie een van Standerton se agt rioolpompstasies funksioneer tans nie. Gevolglik stroom onverwerkte riool uit mangate en loop dit deur strate, erwe of in dele van die reeds besoedelde Vaalrivier. Inwoners en ondernemings ly ook dikwels onder die gevolge van nasionale beurtkrag én munisipale kragonderbrekings. Die dorp is met tye tot ses ure op ’n slag sonder krag.

Gugu Mhlongo-Ntshangase, die bestuurder van Lekwa Plaaslike Munisipaliteit, skitter ook dikwels in haar afwesigheid. Mhlongo-Ntshangase, die voormalige munisipale bestuurder van die Emadlangeni Plaaslike Munisipaliteit in KwaZulu-Natal, woon tans in Utrecht (meer as 150 km van Standerton af) en is ondanks verskeie korrupsieklagtes en hangende ondersoeke in 2017 aangestel as munisipale bestuurder in Standerton.

Die AfriForum-tak in Utrecht het in 2017 elf klagtes van korrupsie teen Mhlongo-Ntshangase by die Valke in Pietermaritzburg vir verdere ondersoek ingedien nadat ’n volledige interne ondersoek na beweerde korrupsie in die munisipaliteit gedoen is.

“Utrecht het basies hulle probleem net na Standerton oorgeskuif en gevolglik het ons hele dorp byna in duie gestort,” sê Bronwen Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder van die Hoëveld.

Die Standerton-tak het egter vandeesweek in samewerking met plaaslike ondernemings, vrywilligers én skoliere gewoeker en nie net geverf, geplant en opgeknap nie, maar bewys dat die krag van ’n gemeenskap soveel groter is as dié van die staat.

Byna 500 vragmotors ry daagliks deur Standerton en die Lekwa-munisipaliteit versuim om dié dorp se besige paaie in stand te hou. Daarom het die tak besluit om self in te spring en van die dorp se swakste paaie te herstel. Sowat 300 sakke teer is tydens die aksie gebruik.

Die Standerton-tak en jeug het ook padtekens voor Laerskool Standerton geverf om padveiligheid vir die leerders te verbeter en ’n veiligheidsoudit is ook by dié skool gedoen.

Verder is solar-katogies naby die Bethal-Standerton-kruising geplant en padtekens is ook opgerig om veiligheid by dié gevaarlike kruising te verbeter. Dié tak se jeugvleuel het ook die omliggende gebied by die kruising skoongemaak, asook die Voetsporemonument opgeknap. Dié monument is meer as ‘n eeu oud en is opgerig ter nagedagtenis aan ‘n boer wat deur weerlig getref is. Tot vandag toe groei daar nie gras waar die boer se voetspore was nie.

Die tak en jeug het ook nuwe straatnaamblokke opgerig, ’n groot skoonmaakaksie by die rivierpark gehou en meer as 25 bome by vyf skole in die dorp, insluitend Laerskool en Hoërskool Standerton, Laerskool Kalie de Haas, Standerton Primary School en Laerskool Jeugkrag geplant.

Soortgelyke plasings