AfriForum en TKAG betoog by Shell SA-hoofkantoor


Die burgerregte-organisasie AfriForum en die omgewingsorganisasie Treasure Karoo Action Group (TKAG) het vandag betoog teen Shell Suid-Afrika se aansoeke om met hidrobreking in verskeie dele van Suid-Afrika, veral die Karoo, voort te gaan. Shell SA het die groep betogers met stilte begroet en die SAPD is later ingeroep om die vreedsame betogers te verwyder.
Plakkate en pamflette teen hidrobreking, asook botteltjies vol water wat deur hidrobrekingchemikalieë besoedel is, is aan alle Shell-personeel versprei wat by dié oliemaatskappy se hoofkantoor in Johannesburg werksaam is.

“Hierdie organisasies het vandag betoog teen dié groot internasionale maatskappy se winsbejagtheid ten koste van ons erfenis, omgewing en waardevolle waterhulpbronne. Ek is hartseer dat Shell nie bereid is om met ons te praat of ons brief – waarin ons vrese en bekommernisse oor hidrobreking uiteengesit word – wil aanvaar nie. Tog is hulle gretig om te boor en ons water te besoedel sonder om twee keer te dink,” sê Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum.

Volgens Jonathan Deal, uitvoerende hoof van die TKAG, is die brief ook gerig aan Rick Parry, Amerikaanse minister vir energie, wat Kaapstad onlangs besoek het en gepoog het om ’n lansie vir skaliegasontginning in Suid-Afrika en fossielbrandstowwe in Afrika te breek.

“Perry is bloot besig om die geykte uitlatings van Amerikaanse olie-en-gasdrukgroepe te herhaal.  Die grootste deel van die euforie waarmee fossielbrandstowwe begroet word – veral in die VSA – is grootliks op die onakkurate skattings van die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) en die Amerikaanse Energie-inligtingsadministrasie (EIA) gebaseer,” sê Deal.

Die Oos-Kaapse hoë hof in Grahamstad het onlangs beslis dat die regeringsregulasies vir die hidrobrekingbedryf onwettig is. Die land het daarom geen wetgewing in plek om die verskeie risiko’s te reguleer wat internasionale maatskappye met die aanvang van hidrobrekingsprosesse teweeg sal bring nie. AfriForum en die TKAG het ook ’n hofaansoek teen hidrobreking gebring wat na verwagting in Februarie 2018 in die Noord-Gautengse hoë hof aangehoor sal word.

“Die kern van die saak is dat geen aansoeke vir lisensie of permitte vir enige vorm van eksplorasie of produksie kan slaag sonder dat die nodige regulasies in plek is nie. Enige aktiwiteite om die beginsel te ontduik, sal met dringende hofaansoeke begroet word. Shell Suid-Afrika en ander internasionale maatskappye wat vir lisensies of permitte vir hidrobreking aansoek gedoen het, sal hul internasionale aansien net verder skaad deur met hul hidrobrekingsplanne in Suid-Afrika voort te gaan en hul mala fide-aksies ten koste van Suid-Afrikaners beklemtoon,” sê Deal.

Volgens AfriForum en die TKAG het die ekonomiese lewensvatbaarheid van hidrobreking in die Karoo dramaties afgeneem nadat die voorspelde gasreserwes, wat eens op 485 triljoen kubieke voet geskat is, na slegs 13 triljoen kubieke voet afgeneem het.
Een van die grootste leuens wat aan hidrobreking in Suid-Afrika gekoppel word, is dat dit meer as 700 000 werksgeleenthede sal skep. Onlangse plaaslike studies het egter bevestig dat ten beste 3 500 werksgeleenthede geskep sal word, waarvan die meeste heel waarskynlik nie deur ongeskoolde of halfgeskoolde Suid-Afrikaners gevul sal kan word nie.
AfriForum en die TKAG sal die regering en die internasionale maatskappye in samewerking met ander organisasies moniteer om te verseker dat die regte van Suid-Afrikaners en die land se omgewing beskerm word.
Gemeenskapslede kan die AfriForum/TKAG-alliansie ondersteun deur ’n SMS met die woord “Fracking” na 45354 (R1) te stuur.

Soortgelyke plasings