AfriForum en TKAG verhoog druk: Internasionale olie-en-gas-reus gee gehoor


Die burgerregte- en omgewingsbeskermingsorganisasies AfriForum en Treasure the Karoo Action Group (TKAG) het ’n amptelike onderneming van Ben van Beurden, die uitvoerende hoof van Royal Dutch Shell, gekry dat Shell SA se voorsitter Hloniphizwe Mtolo die organisasies sal ontmoet om omgewings-, regs- en ekonomiese bekommernisse oor hidrobreking te bespreek.
Dié onderneming van Shell se internasionale uitvoerende hoof volg op ’n ope brief aan onder andere Shell, Bundu Gas and Oil, Sunset Oil and Gas, Rhino Oil and Gas, Falcon Oil and Gas en die VSA se minister van handel, Rick Perry.

Marcus Pawson, hoof van omgewingsake by AfriForum, dui aan dat geen van die internasionale maatskappy buiten Shell die tyd afgestaan het om op AfriForum en die TKAG se bekommernisse oor hidrobreking te antwoord nie. “Dit is aanduidend van die selfsugtige houdings van dié maatskappye, wat blykbaar vasbeslote is om in die belang van sy aandeelhouers met hidrobreking in Suid-Afrika voort te gaan. Afrika moes al té veel onder die hande van internasionale mynboureuse ly, wat slegs op beleggersvoordele fokus. Nigerië is miskien die beste aktuele voorbeeld van die invloed wat petroleum-ontginning op die omgewing kan hê,” sê hy.
“Ons is ongelukkig met die wyse waarop Suid-Afrikaanse burgers deur internasionale oliemaatskappye behandel word. Net verlede week is ons deur Shell geïgnoreer toe ons die geleentheid versoek het om ’n brief met ons bekommernisse direk aan ’n Shell-verteenwoordiger te oorhandig. Pleks daarvan is ons deur die SAPD ontvang, wat ons weg van Shell Suid-Afrika se hoofkantoor begelei het,” gaan Pawson voort.

Die TKAG se uitvoerende hoof, Jonathan Deal, beklemtoon dat hy in die ses jaar waarin die TKAG hidrobreking reeds teenstaan nog geen rede gevind het om sy standpunt te verander nie. Die proses is steeds waterintensief en die besoedeling daaraan verbonde is gevaarlik vir die gesondheid van omliggende gemeenskappe. Dit maak ook geen ekonomiese sin nie, omdat Suid-Afrika gas van elders kan invoer teen veel laer kostes en sonder enige risiko vir ondergrondse water, boerdery of toerisme. Dit is ’n doodgebore idee en blyk aangepor te word deur diegene wat in die kort termyn graag ’n klomp geld wil en sal maak, maar teen ’n groot koste vir die omgewing en plaaslike gemeenskappe.
AfriForum en die TKAG nooi verteenwoordigers van ander organisasies wat die vergadering met Shell SA se leierskap wil bywoon uit om ’n e-pos in dié opsig te stuur aan marcus@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings