|

AfriForum en Ventersdorp Inwonersvereniging sê kragkwessie die stryd aan

AfriForum en die Ventersdorp Inwonersvereniging het gesamentlik ’n dispuut by Nersa verklaar oor die swak toestand van die elektrisiteitsvoorsiening in die dorp. Op 12 April het afgevaardigdes van AfriForum, die Ventersdorp Inwonersvereniging, die J.B. Marks Plaaslike Munisipaiteit en Nersa vergader om aandag aan die probleem te skenk.

Johan Venter, verteenwoordiger van die Inwonersvereniging, het die probleme duidelik uiteengesit. Amanda Mtembu, Nersa se verteenwoordiger, het die volgende besluit:

  • Die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit moes dieselfde dag nog op al die briewe, verslae en die dispuut reageer. Die munisipaliteit moet ook met ’n werkbare aksieplan met duidelike tydlyne na vore kom.
  • Ná die vergadering het Nersa en die verteenwoordigers van die munisipaliteit inspeksie gaan doen by die plekke waar die probleme in die dispuut aangedui word.
  • Indien die munisipaliteit met ’n aanvaarbare werkbare plan vorendag kom, kry hulle 120 dae om daadwerklik aandag aan die probleme te skenk.
  • Daar sal ’n elektrisiteitsforum vir die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit gestig word waar alle belanghebbendes by die kragsituasie verteenwoordiging sal hê om die vordering te moniteer.

“Dit is baie jammer dat die munisipaliteit nie hul werk doen nie en dit soveel nadelige gevolge vir ’n gemeenskap moet hê. Ek is egter baie beïndruk met die kennis wat Venter oor die saak het en met Mtembu se hantering van die situasie. Mense wat nie hulle werk doen nie, moet eenvoudig tot verantwoording geroep word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

SMS “Ventersdorp” na 45344 (R1) om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings