AfriForum en verkeershoof besleg taxikrisis in Schweizer-Reneke


Die taxi-onrus wat reeds ’n geruime tyd in Schweizer-Reneke voortsleep, is vandeesweek uiteindelik opgelos danksy ingryping deur Alfie Romain, plaaslike verkeershoof, en Esmé Venter, ondervoorsitter van AfriForum se Schweizer-Reneke-tak.

Die onrus het ’n hoogtepunt bereik toe konflik tussen twee groepe taxi’s en ander voertuie ontstaan het. Venter, ’n eiendomsagent, en Romain is ontbied nadat geweld uitgebreek het en ruite stukkend geslaan is. ’n Parkeerplek is vir elke taxi aangewys en dié wat nie permitte het nie, is gewaarsku. Kennisgewingborde sal ook aangebring word om aan te dui waar taxi’s nie mag parkeer nie. Dié situasie is nou onder beheer en geen verdere onrus het tot dusver uitgebreek nie.

Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, sê sy is dankbaar dat hierdie situasie ontlont is, aangesien dit ’n baie ongemaklike en gevaarlike toestand in Schweizer-Reneke tot gevolg gehad het. Sake-eienaars het ook groot skade gely nadat taxi’s hul ondernemings toeparkeer het en kliënte nie by die betrokke ondernemings kon uitkom nie. “Die plaaslike AfriForum-tak sal ’n ogie oor die situasie hou.”

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Schweizer” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings