| | |

AfriForum en VUKO bemagtig Ndebele-gemeenskap om COVID-19 te bestry

AfriForum en Vulamehlo Kusile Organisation (VUKO) bemagtig die Ndebele-gemeenskap deur die saamstel en verspreiding van IsiNdebele-instruksies wat gemeenskapslede in staat sal stel om self tuisgemaakte, wasbare maskers te maak. Plaaslike tradisionele leierskapstrukture en ander gemeenskapsinstellings sal die instruksies versprei en die projek koördineer.

Twee stelle instruksies sal versprei word – die eerste stel instruksies verduidelik hoe om ’n katoen-T-hemp in ’n masker te omskep deur slegs ’n skêr te gebruik. Die tweede stel instruksies gee aanwysings om ’n masker met ’n naaldwerkmasjien of naald en garing te maak. Sosio-ekonomiese werklikhede bepaal dat gespesialiseerde masjinerie en duur materiale nie deel van die plan moet wees nie. Gemeenskapslede wat oor die nodige vaardighede beskik kan op hierdie manier verseker dat elkeen in die gemeenskap ’n masker het.

“VUKO is ’n organisasie wat streef na die bewaring en ontwikkeling van gemarginaliseerde tale en kulture en is daarom verheug om hierdie samewerking met AfriForum vir die vertaling van dié instruksies na IsiNdebele aan te kondig. Die IsiNdebele-instruksies sal ’n groot verskil maak om ons gemeenskappe, wat semi-geletterd is, in staat te stel om die instruksies te verstaan en maskers te maak wat die verspreiding van die koronavirus sal beperk. Ons beskou hierdie gesamentlike projek as ’n mylpaal in die versekering van die beskerming van alle burgers, ongeag taal, kultuur en ekonomiese status,” sê Elias Mahlangu, adjunk-sekretaris van VUKO.

Ten einde die ingewikkelde aard van die pandemie te verstaan en om gemeenskappe te mobiliseer om hul gedrag te verander om die verspreiding van die virus te beperk, is dit belangrik dat inligting in soveel gemeenskappe as moontlik se moedertaal versprei word. AfriForum het daarom besluit om instruksies vir die maak van maskers in verskeie inheemse tale in samewerking met gemeenskapsorganisasies beskikbaar te stel, om hierdie noodsaaklike behoefte aan te pak en om ’n bydrae tot die veiligheid van alle gemeenskappe regoor die land te lewer.

“Gemeenskappe het die vermoë om maskers aan elke gemeenskapslid te voorsien deur inisiatiewe soos hierdie – iets wat die regering eenvoudig nie sal kan doen nie. VUKO het die IsiNdebele-gesegde “kuvuswa ezivusako” of “hulp kom na dié wat hulself help” met AfriForum gedeel. Dit is ’n bevestiging van die gemeenskaplike gees van selfstandigheid wat ook aan die hart van ons benadering lê,” sê Barend Uys, verantwoordelik vir interkulturele samewerking by AfriForum.

VUKO werk saam met amaKhosi, kerke, plaaslike gemeenskappe en verwante instellings om die volhoubaarheid en ontwikkeling van IsiNdebele as een van die amptelike tale van Suid-Afrika te verseker.

Instruksies in Afrikaans en Engels is reeds op AfriForum se webblad beskikbaar.

Klik hier vir die IsiNdebele-instruksies.

Soortgelyke plasings