| |

AfriForum: Eskom-verliese en hoër werkloosheid wys Ramaphosa se planne werk nie

Die burgerregte-organisasie AfriForum het vandag sy skok uitgespreek oor Eskom se jongste rekordverlies van R20,7 miljard vir die 2019-boekjaar tot einde Maart. Die kragreus se skuld oorskry nou R440 miljard.

Dr. Eugene Brink, AfriForum se strategiese raadgewer vir gemeenskapsake, sê betroubare aanduidings wys dat ongeveer dieselfde verliese aanstaande jaar gely gaan word.

“Dit wys dat Eskom se probleme langdurig en meer omvattend is as wat ons gedink het. Met die verhoogde kwartaallikse werkloosheidsyfer van 29% in ag geneem, blyk dit buite die bereik van sowel pres. Cyril Ramaphosa as sy party en regering om Eskom en ander staatsinstellings se diepliggende uitdagings aan te pak. Inteendeel is hulle deel van die probleem en Ramaphosa se sogenaamde nuwe daeraad is duidelik ’n vals een.”

Volgens Brink is hierdie verknorsing nie slegs Eskom se skuld nie.

“Leierskap ontbreek op alle vlakke in die staat en dit begin bo. Die ANC se topleierskap is dermate in hewige faksiegevegte betrokke dat dit bloot ’n stryd om oorlewing geword het en beleid feitlik sonder uitsondering sosialisties van aard is. Munisipaliteite se skuld aan Eskom styg voortdurend met rasse skrede en niemand hou hulle verantwoordbaar nie. Onvoldoende en onvoorwaardelike reddingsboeie word bloot gegee – wat as die geld opraak?”

Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, sê Ramaphosa, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het ’n verpligting om hul instellings tot verantwoording te roep en dit effektief te bestuur.

“Om dit te doen moet hulle dringend kan optree teen verskillende munisipaliteite om Eskom as instelling te beskerm. As dít nie plaasvind nie, is dit duidelik dat hierdie rolspelers eerder die instellings in die grond in sal bestuur voordat hulle hul politieke bondgenote aanspreek.”

Dit is ook geen verrassing dat Eskom se inkomste daal nie. Mense en ondernemings maak nou op selfbeskikking staat, omdat hulle besef dat Eskom en die regering, as sy aandeelhouer, nie op die lange duur in hul behoeftes kan voorsien nie.

“Gemeenskappe is ook toenemend besig om alternatiewe kragopwekking en -voorsiening onafhanklik van die staat te oorweeg weens die wanfunksionele aard van Eskom en snelstygende tariewe. Die regering sal later geen keuse hê as om die sektor verder te dereguleer nie,” sluit Brink af.

Soortgelyke plasings