|

AfriForum, FAK en Erfenisstigting tree op ná konsentrasiekampgrafte met water bedek is

AfriForum het op 25 Januarie 2022 met afgryse kennis geneem dat die konsentrasiekampgrafte in die Heilbron-begraafplaas feitlik met water bedek is. Dit volg nadat ’n inwoner van Heilbron Danie Knoetze die organisasie ingelig het oor die stand van sake en foto’s van die grafte aangestuur het. Die blyk dat die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit mense lukraak rondom die konsentrasiekampgrafte begrawe en hierdie nuwe grafte het nou ’n wal gevorm wat veroorsaak dat die water nie kan uitvloei nie.

Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier, is Jan-Danie Malan van die FAK en Jaco Cilliers van die Erfenisstigting gekontak. Malan is dadelik na Heilbron waar hy hulp aangebied het. Knoetze het ’n pomp beskikbaar gestel om die derduisende liter water uit die begraafplaas te pomp, terwyl AfriForum onderneem het om die koste daarvan te betaal. Op aanbeveling van Cilliers is die eerste prioriteit nou om die water weg van die grafte te kry. 

Volgens Quarta Pretorius, ’n jarelange inwoner van Heilbron en ’n bekende in die kultuur- en erfeniskringe, is hierdie al ’n jarelange probleem wat al telkens onder die munisipaliteit se aandag gebring is. Daar is egter tot op hede niks aan die probleem gedoen nie.

“Ek het dadelik toe ek die berig en foto’s van hierdie ramp ontvang, dit aan Bruce Kannemeyer die munisipale bestuurder, en aan Francis Moeketsi, die bestuurder in Heilbron, gestuur en gevra waarom dit so lyk, maar tot op hede nie van enigeen ’n antwoord gekry nie. AfriForum sal beslis hierdie saak verder met die munisipaliteit opneem, want dit is ook ’n sprekende voorbeeld van swak bestuur. Ek is baie dankbaar teenoor die FAK en die Erfenisstigting vir hulle raad en hulp. ’n Mens kan nie sommer op enige wyse met historiese gedenkwaardighede omgaan nie. Op die oomblik is die grootste prioriteit egter om die water uit die begraafplaas te kry en ek wil ook vra dat lede van die gemeenskap wat kan help, asseblief daar sal aanmeld,” sê Pretorius.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Heilbron” na 45344 (R1) en word deel van die oplossing.

Soortgelyke plasings