|

AfriForum fokus in September op boomplantprojek

Die burgerregtewaghond AfriForum het vandag boomplantmaand afgeskop deur ʼn Bosvlier (Nuxia floribunda) in die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Afrikaanse liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria te plant.

Die Bosvlier is ‘n middelgroot boom wat voorkom vanaf die Wes-Kaap tot in Limpopo. Dit is ‘n multi-vertakte struik met eenvoudige, blinkgroen en groot blare (tot 15 x 5 cm). Die piepklein blommetjies (3 mm lank) is roomwit, word aan groot trosse gedra en ruik geurig. Die vrugte is ook klein (4 mm) en word vaalbruin wanneer ryp.

As deel van boomplantmaand gaan die organisasie se takke landwyd bome plant.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, is die inisiatief deel van ’n poging om die toekoms vir die volgende generasie te verseker. “Mense regoor Suid-Afrika vier boomplantdag op 1 September, maar AfriForum wil egter die hele Septembermaand aan die plant van bome wy.”

Sowat 130 AfriForum-takke beplan om deur die loop van die maand meer as duisend bome landwyd te plant.

Hoewel die burgerregte-organisasie daarop gaan fokus om Blinkblaar Wag-’n-Bietjie- en Ebbebome te plant, word gemeenskappe aangemoedig om enige boom wat inheems tot hul omgewing is, te plant. ’n Inligtingsdokument oor boomplantmaand is beskikbaar by www.afriforum.co.za

Boshoff verduidelik dat ʼn onlangse studie in New York in die VSA getoon het dat die toevoeging van ’n addisionele 343 bome/km² die voorkoms van asma met tot soveel as 24% – 29% by kinders tussen die ouderdomme van 4 en 5 jaar kan verlaag.

“Bome is deel van ʼn erfenis, dit is ’n belangrike deel van die ekosisteem en is ’n natuurlike hulpbron waarsonder niemand in staat sal wees om te oorleef nie. Ons moedig alle gemeenskappe aan om aan boomplantmaand deel te neem en sodoende ʼn verskil te maak,” sê Boshoff.

Johan Jansen van Vuuren, kommunikasiebeampte van die FAK, sê dat die projek nie net ’n groen voetspoor in Suid-Afrika vestig nie, maar dat Afrikaans ook opnuut geanker word. “Die Bosvlier wat in die FAK se Afrikaanse liedjietuin geplant is, bied die geleentheid vir ons nageslag om in die skadu van ’n boom in Afrikaans te kan ontspan, te groei en saam met die bome te ontwikkel.”

Soortgelyke plasings