|

AfriForum gaan 2 000 slaggate tydens “Slaggatmaand” herstel

Die burgerregte-organisasie gaan vandeesmaand ʼn nasionale veldtog genaamd “Slaggatmaand” van stapel stuur waartydens sowat 2 000 slaggate landwyd herstel sal word.

Marcus Pawson, hoof van plaaslike regerings by AfriForum, sê die doel met die projek is om selfdienslewering onder gemeenskappe te versterk. “Met ons 10 Dae van Selfstandigheid-veldtog in 2015 is sowat R1,3 miljoen bestee om slaggate te herstel. Ons wil met hierdie projek  ʼn groter impak maak om paaie landwyd te verbeter.”

Hy sê ook dat AfriForum-takke daarop gaan fokus om deur saakwaarneming die munisipaliteite finansieel verantwoordelik te hou waar hulle versuim het om hul pligte na te kom.

“Uit ervaring het ons geleer dat wanneer gemeenskappe hul onderskeie munisipaliteite aanspreek en vra om hierdie tipe dienste te lewer of te verbeter, vorder hul gewoonlik nie verder as ʼn vergadering met plaaslike amptenare nie. Daarom het AfriForum verlede jaar begin met hierdie selfdoen-inisiatiewe om selfdienslewering te verbeter.”

ʼn Totaal van 125 AfriForum-takke gaan aan die projek deelneem en 1 500 ton teer sal gebruik word om slaggate in hul onderskeie dorpe te herstel. Die projek sal sowat R2 miljoen beloop.

“Slaggatmaand” skop af op Maandag 9 Mei 2016 en sal vir die res van die maand duur.  AfriForum-lede is welkom om vir Forum Nuus foto’s te stuur na tydskrif@afriforum.co.za waar hul strate herstel word.

 

 

 

Soortgelyke plasings