| | |

AfriForum gaan appèl aanteken teen uitspraak dat Toerismedepartement ras as maatstaf vir hulp mag gebruik

AfriForum het sy regspan opdrag gegee om die Konstitusionele Hof direk te nader met ’n appèlaansoek teen die beslissing van die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria dat die Departement van Toerisme wel ras as maatstaf mag gebruik vir die toekenning van COVID-19-hulp aan toerisme-ondernemings. Regter Jody Kollapen het sy uitspraak in die saak vandag per e-pos gelewer. AfriForum en Solidariteit was die applikante in die saak.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het die organisasie besluit om die Konstitusionele Hof direk te nader, aangesien die klein toerisme-ondernemings wat deur lede van minderheidsgemeenskappe besit word, tans net soos alle ander klein toerisme-ondernemings dringend hulp benodig. “As die saak sloer, sal talle kleinsakeondernemings in wit besit ondergaan en sal die regering aandadig wees aan – figuurlik gesproke – ekonomiese moord op minderhede,” sê Kriel.

Kriel het ook daarop gewys dat dit belangrik is dat lede van minderheidsgemeenskappe duidelikheid by die Konstitusionele Hof kry oor of dit werklik die geval is dat die huidige grondwetlike bedeling in so ’n mate minderhede se regte ondermyn dat daar selfs tydens krisisomstandighede teen wit mense gediskrimineer mag word.

Indien dit wel so is, sal minderheidgemeenskappe volgens Kriel moet besef dat hulle slegs op hulle eie gemeenskappe aangewese is en dat stappe gedoen sal moet word sodat lede van minderheidsgemeenskappe mekaar kan ondersteun om oorlewing te verseker. “AfriForum het voorsien dat die regering sy rug op ondernemings vanuit minderheidsgemeenskappe gaan draai en het gevolglik reeds www.afriforumnetwerk.co.za tot stand gebring waar kleinsakeondernemings gratis kan registreer sodat lede van hul plaaslike gemeenskappe hulle daar kan opspoor en ondersteun,” sê Kriel.

Lees die uitspraak hier: Solidarity and Afriforum and Minister of Tourism

Soortgelyke plasings