AfriForum gaan appelleer teen hofuitspraak oor Unisa-taalbeleid


Verlof is aan die burgerregte-organisasie AfriForum verleen om teen die Noord-Gautengse hoë hof se uitspraak ten gunste van die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se eentalige Engelse taalbeleid te appelleer. Dié uitspraak is op 26 April 2018 gelewer.
Volgens Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum verantwoordelik vir taalaangeleenthede, het die organisasie en sy regspan besluit dat dit noodsaaklik is om te appelleer, aangesien die beskerming van taalregte noodsaaklik vir gehalte-onderwys in die land is en die toekomstige stand van die ekonomie direk raak. Die beskerming van die regte van Afrikaanssprekende studente is van sleutelbelang vir AfriForum en die organisasie sal voortgaan om hulle toegang tot moedertaalonderrig op alle moontlike wetlike wyses te beskerm en te bevorder.

“Hierdie uitspraak is na ons mening en die nasionale en internasionale navorsing wat ons die afgelope 12 jaar oor die belang van die beskerming van taalregte doen, nie in pas met ontwikkelinge op hierdie gebied nie,” sê Bailey. “Die regte waarvoor ons beskerming vra, raak die sprekers van alle amptelike tale direk.”

Kort ná verlof om appèl toegestaan is, het AfriForum goeie nuus verneem betreffende ’n ander taalsaak waarby die burgerregte-organisasie betrokke is. AfriForum is naamlik een van die organisasies wat die taalregte-aktivis Cerneels Lourens steun in ’n saak oor die gebrek aan wetgewing in al 11 amptelike tale. Tans word alle wetgewing in Engels gepubliseer, met ’n lukraak gekose tweede taal daarby. Dit beteken dat Suid-Afrikaanse wetgewing nie volledig in enige van die tien inheemse amptelike tale beskikbaar is nie. Lourens en sy medewerkers het die saak in 2017 by die Verenigde Nasies (VN) se Menseregtekomitee aanhangig gemaak nadat alle plaaslike regsremedies om veeltalige wetgewing moontlik te maak, sonder sukses uitgeput is. Dié klag word nou uiteindelik amptelik ondersoek. Lourens, AfriForum en die ander deelnemers aan die proses hoop dat die VN se ondersoek ook tot meer bewustheid oor die noodsaak van taalregte in die land sal bydra.

“Die VN se erns met hierdie saak behoort ook instellings soos Unisa daarop te wys dat studente nie sondermeer van onderrig in hul moedertaal ontneem kan word nie,” verklaar Bailey. AfriForum berei dus nou volstoom vir die appèlsaak teen Unisa se eentalige taalbeleid voor.

Soortgelyke plasings