AfriForum gaan burgerlike mosie van wantroue teen president Zuma instel


AfriForum het vandag op die burgerregte-organisasie se webtuiste ’n burgerlike mosie van wantroue teen president Jacob Zuma van stapel gestuur.
Dít volg ná die onlangse skommeling van die kabinet en Suid-Afrika se kredietstatusafgradering na rommel deur die kredietgraderingsagentskap Standard & Poor’s (S&P).
Dié mosie is opgestel in die vorm van ’n aanlyn-petisie wat by Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, ingedien gaan word. AfriForum doen ’n beroep op die groter publiek om die mosie van wantroue te ondersteun. Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sê die burgerregtewaghond beoog om meer as 100 000 name in te samel.
Roets meen voorts dat hierdie mosie ’n geleentheid aan die groter publiek bied om deel te neem aan ’n proses om van Zuma as staatspresident ontslae te raak.

“Ons ondersteun die sentiment van verskeie opposisiepartye dat daar weer ’n mosie van wantroue teen die president ingestel moet word. Daardie proses sal egter in die parlement afspeel en deur politieke partye gedryf word. Terselfdertyd skep ons ’n platform vir die publiek om self ook deel te neem aan ’n mosie van wantroue deur hul name by ’n burgerlike weergawe daarvan te voeg.”
“Hierdie is nie bloot ’n petisie nie. Dit is nodig dat die boodskap oorgedra word dat dit nie net opposisiepartye met politieke aspirasies is wat aanvoer dat Zuma nie bevoeg is om die regering te lei nie, maar dat hierdie sentiment deur die burgerlike samelewing gedeel word.”

Die mosie van wantroue kan ondersteun word by www.afriforum.co.za/stop-zuma/.

Soortgelyke plasings