|

AfriForum gaan departement se besluit oor publikasie van matriekuitslae in hof teenstaan

Die burgerregteorganisasie AfriForum, Maroela Media en Anlé Spies (’n 2021-matrikulant) het vandag hofstukke beteken op onder andere Angie Motshekga, die Minister van Basiese Onderwys, ten einde die Departement van Onderwys se skielike besluit om nié die 2021-matriekuitslae in die media te publiseer nie, op ’n dringende basis in die hof teen te staan.

Volgens Natasha Venter, bestuurder vir onderwysregte by AfriForum, dien die openbare opgewondenheid wat met die publisering van matriekuitslae gepaardgaan as motivering vir toekomstige matrieks. “Om die grootsheid van die geleentheid af te water, sal uiteindelik die strewe na uitnemendheid in onderwys ondermyn.”

Voorts, kan die departement volgens Venter nie agter die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, 4 van 2013 (die sogenaamde POPI-wet) skuil om hierdie irrasionele besluit te regverdig nie. “Slegs leerders se eksamennommers word op mediaplatforms gepubliseer, met ander woorde leerders se persoonlike inligting of identiteit word op geen wyse sonder hul toestemming bekendgemaak nie. In ’n demokratiese land moet inligting (binne die perke van die reg) tog vrylik beskikbaar wees en dit is iets wat die departement ook behoort te ondersteun.”

Die dringende aansoek sal op 18 Januarie in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria aangehoor word voordat die matriekuitslae op 20 Januarie 2022 bekendgemaak word.

Soortgelyke plasings