|

AfriForum gaan geldigheid van hernuwing van bestuurslisensiekaarte in hof betwis

AfriForum dien vandag hofstukke in om die vereiste dat bestuurderslisensiekaarte elke vyf jaar hernu moet word, teen te staan.

Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger in die saak, meen die Nasionale Padverkeerswet en meegaande regulasies is onwettig, onredelik, arbitrêr en vaag in soverre dit die hernuwingstydperk vir bestuurderslisensiekaarte tot vyf jaar beperk.

Die organisasie eis ’n verklarende bevel dat motoriste nie kragtens dié wetgewing gepenaliseer of beboet mag word as hulle nie ’n hernude bestuurderslisensiekaart het nie, aangesien daar nie so ’n boete bestaan nie. “Lede van die publiek kan nie gestraf word as die regering nie duidelik kan aantoon watter wet oortree is nie. Enige so ’n straf kom neer op ’n skending van regte. Dit kan dus beteken dat talle motoriste die afgelope 20 jaar onregmatig beboet is omdat hul nie hernude bestuurslisensiekaarte gehad het nie,” sê Eloff.

Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger

AfriForum voer in die hofstukke aan dat sy aansoek op grond van regs- en praktiese gronde behoort te slaag. “Uit ’n regsperspektief is die Nasionale Padverkeerswet en -regulasies te vaag om uitvoerbaar te wees. Die wetgewing onderskei nie duidelik tussen ’n ‘bestuurderslisensie’ en ’n ‘bestuurderslisensiekaart’ nie. Dit bepaal ook nie uitdruklik dat motoriste wanneer die kaart verval, móét aansoek doen om ’n nuwe lisensiekaart nie. Dit bepaal nie eens dat dit ’n misdaad is om met ’n vervalde lisensiekaart te bestuur nie en skryf geen boete, straf of sanksies voor nie,” sê Eloff.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum, meen die hofsaak kan ’n waterskeidingsaak en deurslaggewend wees.

Reiner Duvenage, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum

Hy het daarop gewys dat motoriste reeds jare deur die Departement van Vervoer en lisensiekantore benadeel word weens korrupsie, bedrog, wanbestuur en sistemiese mislukkings wat die uitreik van bestuurslisensies en -lisensiekaarte betref. Weens die regering se onbevoegdheid is daar ’n agterstand van sowat 1,3 miljoen lisensiekaarte.

Dié krisis is boonop vererger toe die minister vroeër vanjaar erken het dat geen bestuurslisensies uitgereik of hernu kon word nie omdat die enigste masjien wat die kaarte druk, gebreek is. Dit moes in Duitsland herstel word.

AfriForum is nie die enigste organisasie wat die regering al daarop gewys het dat baie lande wêreldwyd ’n lisensiekaartstelsel het wat nie so ’n gereelde hernuwing vereis nie. Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) en die Automobiel-Assosiasie (AA) het al voorgestel dat die geldigheid van rybewyse eerder tien jaar moet wees soos in verskeie ander lande.

Duvenage sê dit is verregaande dat bestuurderslisensiekaarte elke vyf jaar hernu moet word. “As ons aansoek suksesvol is, sal dit die Departement van Vervoer lelik in die skande steek, aangesien dit sal beteken dat hulle die publiek al jare lank onregmatig straf. Dit kan werklik ’n keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika wees.”

Lede van die publiek kan die webwerf www.lisensiesvervalnie.co.za besoek om hul steun vir die hofsaak te gee.

Soortgelyke plasings