|

AfriForum gaan gesondheidsdepartemente vasvat oor verkwiste R10 miljard

Die burgerregte-waghond AfriForum gaan vandeesweek al nege provinsies besoek en strafregtelike klagtes ingevolge Artikel 86(1) van die Openbare Finansiëlebestuurswet, 1999 (Wetno. 1 van 1999) teen die nege hoofde van die provinsiale gesondheidsdepartemente indien.

Die eerste klagtes is vandag teen die huidige Gautengse gesondheidsdepartementhoof, Mkhululi Lukhele, by die Lyttelton-polisiestasie in Centurion ingedien. Die departement het in die 2017/2018 finansiële jaar R1,3 miljard wanbestee. Hierdie wanbesteding is bo en behalwe dié departement se onreëlmatige uitgawes vir die 2016/2017 finansiële jaar wat R1,8 miljard beloop het.

Daar is ook klagtes by die Vryheid-polisiestasie teen dr. Sifiso Mtshali, huidige  gesondheidsdepartementshoof in KwaZulu-Natal, ingedien wat in die 2017/2018 finansiële jaar ook R1,3 miljard wanbestee het.

“Die wanbesteding van hardwerkende belastingbetalers se geld is ’n nasionale krisis. Met die lê van hierdie klagtes beoog AfriForum om die rekenpligtige amptenare tot verantwoording te roep,” meen Wico Swanepoel, regsadviseur van plaaslikekorrupsiesake by AfriForum.

“Hulle moet onreëlmatige, ongemagtigde, vrugtelose en verkwistende besteding voorkom en skuldige partye aanspreeklik hou. Verder is die departementshoofde verplig om volledige rekords van hul departemente se finansiële sake ingevolge voorgeskrewe wetgewing, norme en standaarde by te hou. Dit is egter duidelik uit die departemente se jaarverslae dat hierdie verantwoordelikhede glad nie nagekom word nie,” meen Swanepoel.

AfriForum sal ook vandeesweek strafregtelike klagtes by polisiestasies teen die volgende amptenare indien:

  • Savera Mohangi, gesondheidsdepartementshoof in Mpumalanga (Nelspruit-polisiestasie), vir die wanbesteding van R5 miljard.
  • N.P. Kgaphole, gesondheidsdepartementshoof in Limpopo (Modimolle-polisiestasie), vir die wanbesteding van R200 miljoen.
  • Thabo Lekalakala, gesondheidsdepartementshoof in Noordwes (Mahikeng-polisiestasie), vir die wanbesteding van R600 miljoen.
  • M.N.G Mahlatsi, gesondheidsdepartementshoof in die Vrystaat (Parkweg-polisiestasie in Bloemfontein), vir die wanbesteding van R300 miljoen.
  • Beth Engelbrecht, gesondheidsdepartementshoof in die Wes-Kaap (Bellville-polisiestasie), vir die wanbesteding van R11 miljoen.
  • T.D. Mbengashe, gesondheidsdepartementshoof in die Oos-Kaap (Humewood-polisiestasie in Port Elizabeth), vir die wanbesteding van R33 miljoen.
  • Nomathemba Mazibuko, gesondheidsdepartementshoof in die Noord-Kaap (Kimberley-polisiestasie), vir die wanbesteding van R600 miljoen.

* In die lig van die minister van gesondheid se aankondiging dat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) vir eers van die baan is, sal AfriForum nie sy verslag in die verband vrystel nie, maar eerder voortgaan sy veldtog teen die wanbesteding van belastinggeld in die gesondheidsektor.

Soortgelyke plasings