AfriForum gaan internasionale gemeenskap oor eiendomsregbedreiging in Suid-Afrika waarsku


Die burgerregte-organisasie AfriForum gaan ’n omvattende internasionale veldtog van stapel stuur om regerings wêreldwyd en buitelandse beleggers in te lig dat eiendomsreg in Suid-Afrika bedreig word en dat buitelandse beleggings in Suid-Afrika ook nie veilig sal wees nie sou planne vir die onteiening van eiendom sonder vergoeding deurgevoer word.
AfriForum se veldtog volg in reaksie op gister se goedkeuring van ’n mosie in die parlement wat ’n proses begin om die Suid-Afrikaanse Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding te bewerkstellig.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sal hierdie veldtog geloods word met memorandums wat aan die ambassades van lande wat tans Suid-Afrikaanse handelsvennote is, oorhandig sal word. Dié memorandum sal handel oor die bedreiging van eiendomsreg in Suid-Afrika. Kriel sê dat die memorandum ook aan alle ander ambassades gestuur sal word. Lande wie se burgers beleggings in Suid-Afrika het, sal volgens Kriel in dié memorandum versoek word om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om af te sien van planne om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.
Kriel waarsku dat, sou die Suid-Afrikaanse regering hom nie steur aan buitelandse druk nie en voortgaan om eiendomsreg te bedreig, AfriForum buitelandse beleggers, handelskamers en die Wêreld Ekonomiese Forum direk op groot skaal sal nader om hulle in te lig dat hul beleggings in Suid-Afrika nie veilig is nie.

“Hoewel dit ’n drastiese stap sal wees, sal dit ’n noodsaaklike laaste uitweg wees om te verhoed dat die Suid-Afrikaanse regering die land se ekonomie – deur eiendomsregmiskenning – tot nadeel van almal in die land vernietig. As ’n verantwoordelike organisasie moet AfriForum alles doen om te verhoed dat Suid-Afrika nie deur die miskenning van eiendomsreg ’n tweede Zimbabwe word wat in armoede gedompel word nie,” voeg Kriel by.

Benewens die vernietiging van Suid-Afrika se ekonomie hou onteiening sonder vergoeding volgens Kriel ook ’n wesenlike gevaar in dat dit konflik in die land kan ontketen. “Konflik is in niemand se belang nie en daarom sal AfriForum alles moontlik doen om internasionale druk te mobiliseer om só die skending van eiendomsreg te verhoed,” sê Kriel.
Oor moontlike kritiek op AfriForum se beplande optrede om internasionale beleggers in te lig oor die bedreiging van eiendomsreg in die land, sê Kriel dat kritici nie die boodskapper moet aanval omdat hulle nie van die boodskap hou nie. Volgens Kriel is die oorsaak van die dreigende krisis die feit dat die regerende party sy rug op die beskerming van eiendomsreg gekeer het.

Soortgelyke plasings