AfriForum gaan kommentaar op NGV-wetsontwerp indien


AfriForum het aangekondig dat dié burgerregte-organisasie binne die volgende drie maande kommentaar op die Wetsontwerp oor Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) sal indien. Dié wetsontwerp is vandag in die Staatskoerant gepubliseer, en dit het die uiteindelike oogmerk om gesondheidsdienste namens die publiek aan te koop en universele gesondheidsorg te lewer.
Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsdienste by AfriForum, sê daar is talle onbeantwoorde vrae en leemtes in die wetsontwerp.

“Die eerste vraag het te doen met kostes, want sonder finansiering kan só ʼn voorstel nie aan die gestelde eise voldoen nie. Die wetsontwerp swyg meestal hieroor, en dit is iets wat AfriForum verder sal ondersoek voordat ons kommentaar lewer.”

Volgens Brink is die NGV se wetsontwerp op wensdenkery gegrond en kan dit nie net die gesondheidstelsel nie, maar ook die ekonomie, in duie laat stort.

“Met die Suid-Afrikaanse ekonomie wat stotter en te min “rykes” wat die armes moet onderhou, kan dit tot ’n uittog van die middelklas en welvarendes lei, wat die hele plan buitendien in duie sal laat stort. Die land kan dit eenvoudig nie bekostig nie.”

Brink sê gesondheidsminister Aaron Motsoaledi se aanval op die privaat bedryf is skynheilig, want die staat beoog juis om dienste van die privaat sektor te koop.

“Hoewel die minister die privaat bedryf van uitermate hoë koste beskuldig, wil hy van hul dienste gebruik maak om te vergoed vir die gemors in die openbare gesondheidsektor. Hierdie plan gaan waarskynlik die privaat gesondheidsbedryf aftrek tot op die vlak wat die openbare gesondheidsektor tans is.”

Soortgelyke plasings