AfriForum gaan TMPD-beamptes privaat vervolg ná hantering van Duitse professor en skooljuffrou

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het vandag in ’n skrywe aan luitenant-generaal J.M. Nkomo versoek dat sy ’n groep beamptes van die Tshwane-metropolisiedepartement (TMPD) beskikbaar stel vir konsultasie rakende die privaat vervolging wat AfriForum teen hulle sal instel. Dié vervolging hou verband met twee voorvalle in 2019 waartydens dié metropolisiebeamptes na bewering onbehoorlik opgetree toe hulle vir Kymie du Toit (’n skooljuffrou van Pretoria) en (in ’n ander voorval) die Duitse professor André Thomashausen afgetrek het. AfriForum tree namens Du Toit en Thomashausen op in die privaat vervolging teen die betrokke beamptes.

Dit volg nadat AfriForum in Junie vanjaar ’n omvattende veldtog teen die beweerde wangedrag en magsvergrype van sekere TMPD-lede aangekondig het. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid het op 25 Junie aan lt.-gen. Nkomo geskryf en geëis dat sy daadwerklike stappe teen hierdie beamptes doen. In antwoord op AfriForum se brief beweer lt.-gen. Nkomo dat die ondersoek na die Thomashausen-insident bevind het dat die professor geen sigbare beserings opgedoen het nie en dat daar dus geen wangedrag of rede vir dissiplinêre optrede teen die betrokke beamptes is nie.

Professor Thomashausen het tydens AfriForum se mediakonferensie in Junie verduidelik hoe die insident hom en sy oorsese passasiers getraumatiseer het en ook dat hy vir sy lewe gevrees het as gevolg van sekere beamptes se aanvallende optrede (kyk die insetsel hier).

“Hoewel AfriForum die TMPD se omvattende antwoord op ons brief verwelkom, kan ons nie hulle versuim om teen die betrokke beamptes op te tree daar laat nie. Die Privaatvervolgingseenheid is bekommerd dat ons al hoe meer gevalle sien waar die regering vinnige, eensydige ondersoeke na onbehoorlike optrede van amptenare loods. Hierdie ondersoeke bevind gewoonlik dat die amptenare onskuldig is, maar behoorlike konsultasie dui daarop dat sodanige oorhaastige bevindings gewoonlik irrasioneel is. AfriForum se Privaatvervolgingseenheid sal die betrokke beamptes daarom privaat vervolg om toe te sien dat geregtigheid geskied vir me. Du Toit en prof. Thomashausen,” sê Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se Privaatvervolgingseenheid.

Lede van die publiek wat deurgeloop het onder gevalle van magsmisbruik deur TMPD-lede word aangemoedig om dit op AfriForum se klagteplatform aan te meld. Hierdie insidente word ook direk aan lt.-gen. Nkomo gestuur. Dié platform is spesifiek op wangedrag deur lede van die TMPD gemik, maar mense in ander dele van die land wat klagtes oor metropolisielede het, kan hierdie inligting ook via die platform deel.

Soortgelyke plasings