|

AfriForum gaan voort met stryd teen Unisa

Die burgerregte-organisasie sal voortgaan met regstappe teen Unisa oor dié universiteit se taalbeleid ondanks ʼn uitspraak vandag in die Pretoriase hooggeregshof wat die instelling nie keer om sy nuwe taalbeleid in 2017 toe te pas nie.

Dié nuwe taalbeleid bepaal dat Engels vanaf 2017 die enigste onderrigtaal sal wees en dat Afrikaans, wat tans die onderrigmedium van tussen 20 000 en 30 000 studente is, nie meer gebruik gaan word nie.

AfriForum het reeds in Junie met regstappe teen Unisa oor die afskaffing van Afrikaans begin nadat die universiteitsraad in April 2016 besluit het dat hul enigste taal van onderrig voortaan Engels sal wees.

In ʼn prokureursbrief wat aan die raadsvoorsitter en senior bestuur van Unisa gestuur is, het die burgerregte-organisasie hulle gevra om voor of op 6 Julie 2016 ʼn onderneming aan die twee partye se regsverteenwoordigers te gee dat die implementering van die nuwe taalbeleid voorlopig opgeskort word, hangende die finalisering van ʼn hersieningsaansoek om dit ter syde te stel.

Weens die universiteit se gebrek aan reaksie op dié skrywe, het AfriForum met hul dringende hofaansoek voortgegaan, tesame met die genoemde hersieningsaansoek. Volgens die burgerregte-organisasie was die saak dringend omdat studente vir 2017 moes beplan en sekerheid oor Unisa se onderrigtaal moes kry.

Die Pretoriase hooggeregshof het egter op 27 Julie beslis dat die aansoek teen die implementering van die taalbeleid nie ʼn dringende kwessie is nie. Die saak is toe weer Vrydag (16 September) aangehoor waarna regter Roland Sutherland uitspraak tot vandag voorbehou het.

Sutherland het beslis daar is ’n prima facie saak dat Unisa wel studente se grondwetlike regte skend. Hy het egter gelas dat die universiteit intussen kan voortgaan om sy nuwe taalbeleid inwerking te stel omdat daar nie onherstelbare skade vir studente in die korttermyn is nie.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, sou die eerbare optrede wees dat die bestuur sou wag met implementering, maar Unisa wou egter geen onderneming van dié aard gee nie.

Bailey het gesê AfriForum moedig studente steeds aan om hul behoefte aan Afrikaanse studie onder die universiteitsowerhede se aandag te bring.

“Die howe kan die regte beskerm, maar die toekoms van die taal lê veral in Afrikaanssprekendes se hande – dis hulle plig om dit op te eis en te gebruik. Hulle moet self ook hul misnoeë met die nuwe beleid en implementering daarvan duidelik maak.”

Sy meen AfriForum beskou die beskerming van studente se grondwetlike reg tot Afrikaanse onderrig as van die grootste belang en sê die burgerregte-organisasie is bereid om dit tot op die hoogste vlak met regsaksie te verdedig.

Soortgelyke plasings