|

AfriForum gebruik 150 ton teer om paaie in Lichtenburg te verbeter

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het sedert die tak hul volhoubare slaggatprojek in Maart verlede jaar van stapel gestuur het reeds 150 ton teer gebruik om slaggate in die dorp te vul. Hierdie projek is steeds, danksy die hulp van NWK en lede van die gemeenskap, volstoom aan die gang en nog ’n teerprojek is op 16 Maart 2022 in Lettie-, Breëstraat en Le Rouxweg voltooi. Altesaam 179 slaggate is met ongeveer vyf ton teer gevul. NWK het teer vir hierdie projek geborg en het ook toerusting beskikbaar gestel terwyl AfriForum die arbeid vir die herstelwerk verskaf het.

“Die paaie in Lichtenburg is in ’n patetiese toestand omdat die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit nie die nodige instandhouding en herstelwerk doen nie. Inligting van gemeenskapslede wys dat dienslewering byna tot stilstand gekom het en dat geen herstelwerk gedoen is ná die afgelope vier maande se baie reën nie. Die Lichtenburg-tak se slaggatprojek het egter reeds uitstekende vordering gemaak en ’n mens kan al ’n beduidende verskil opmerk. Baie dankie aan elke AfriForum-lid en sakeonderneming vir julle onmisbare bydrae tot die sukses en volhoubaarheid van die projek,” sê Petrus Coetzee, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Die skenkings wat ons tot dusver gekry het, insluitend die waardevolle bydraes van NWK, het die projek moontlik gemaak. Individue of ondernemings kan slaggate uitwys en ’n skenking maak vir die nodige teer, waarna AfriForum dan sy span sal stuur om die betrokke slaggate te herstel. Ons daag al die sakeondernemings in Lichtenburg uit om skenkings aan die tak te maak sodat ons die paaie nog verder kan verbeter,” sê Steyn Kearney, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak.

Pine Pienaar (bestuurslid van AfriForum se Lichtenburg-tak) bestuur die teerprojek en sakeondernemings of gemeenskapslede kan hom gerus by 082 371 5312 kontak om slaggate te nomineer en om by die projek betrokke te raak. Die organisasie doen werklik ’n beroep op die gemeenskap om skenkings te maak en om aan te sluit by AfriForum se Lichtenburg-tak sodat die projek volhoubaar gedryf kan word.

Raak vandag nog deel van AfriForum se Lichtenburg-tak: SMS “Lichtenburg” na 45351 (R1).

Soortgelyke plasings