|

AfriForum gebruik Malema en EFF-geld teen grondgrype

Die sowat meer as R235 000 wat Julius Malema, omstrede leier van die EFF, en sy party aan AfriForum oorbetaal het nadat vyf kostebevele teen hulle bekom is, word nou deur die burgerregte-organisasie gebruik om grondgrype in die howe teen te staan.

AfriForum het vandeesweek ’n oorwinning teen onwettige grondgrypers en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in die Noord-Gautengse hoë hof behaal. Die oorwinning volg ná ’n dringende aansoek gebring is om die SAPD te verplig om grondgrypers te verwyder wat grond onwettig in De Wildt in die Noordwes beset het.

Ian Cameron, hoof van AfriForum se gemeenskapsveiligheid, meen dit is ironies dat Malema nou inderwaarheid betaal om grondgrype hok te slaan. Malema en die EFF het verskeie sake teen AfriForum met koste verloor. Een van die sake het juis gehandel oor Malema wat sy ondersteuners aanmoedig om grond onwettig te beset.

Cameron sê AfriForum sal die stryd teen onwettige grondbesetting voortsit ten einde eiendomsreg in die land te beskerm.

In die jongste geval in die De Wildt-omgewing het AfriForum sowat drie weke lank saam met die spesifieke gemeenskap probeer om die SAPD oor te haal om die wettige eienaars se regte te beskerm. Die organisasie was genoodsaak om hom tot die hof te wend nadat die SAPD geweier het om betredingsake te open en die wettige grondeienaars by te staan, sê Marnus Kamfer, regs-en-risikobestuurder by AfriForum se gemeenskapsveiligheidafdeling.

Malema en die EFF is nog sowat R315 000 aan AfriForum verskuldig. Die drie uitstaande kostebevele gaan eers later verhaal word omdat twee daarvan nog getakseer moet word. Een is onderhewig aan ’n appèlaansoek wat Malema en sy party gebring het.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Malema se betalings vroeër verwelkom en gesê die burgerregte-waghond sal dié geld gebruik om die EFF se pogings om die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak, in die howe te beveg.

Die kostebevele teen Malema en die EFF stuur ook ’n duidelike boodskap uit dat niemand bo die reg verhewe is nie.

Soortgelyke plasings