|

AfriForum gee met video aan desperate Eldorado Park-skoolgemeenskap ’n stem

AfriForum stel vandag ’n video-opname aan die media bekend van ’n gesprek waarin die Eldorado Park-gemeenskap vertel van hul frustrasies met inmenging waardeur die onderwysvakbond Sasou die skool probeer lamlê, asook die onvermoë van die Gautengse onderwysdepartement om hulle by te staan.

Ná tevergeefse versoeke elke maand aan die onderwysdepartement, het die skoolgemeenskap van Eldorado Park Secondary School – beter bekend as die blou skool – adv. Gerrie Nel van AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader. Adv. Nel het met die ouers en beheerliggaam van die skool ontmoet om meer oor hul probleme te wete te kom, waarna hulle hom versoek het om die saak namens hulle te hanteer.

AfriForum het ’n omvattende onderhoud met die voorsitter van die skool se beheerliggaam en ’n gemeenskapsleier van Eldorado Park gevoer. In dié video verduidelik hulle wat die omvang van die kwessie is, hoe die media die gemeenskap se kant van die saak ignoreer en hoe Panyaza Lesufi, die Gautengse LUR van onderwys, hom nie oor die leerders se belange steur nie.

Die video is hier beskikbaar:

https://www.facebook.com/AfriForumNasionaal/videos/1061140680944826/

“Meer as sewe onderwysers is die afgelope twee jaar gereeld afwesig weens Sadou se negatiewe inmenging. Hulle versuim om hul daaglikse onderrigtake te verrig en die tekort aan onderwysers veroorsaak dat leerders se vraestelle glad nie gemerk word nie en hul dus ook nie rapporte ontvang nie,” sê Carien Bloem, bestuurder van onderwys by AfriForum. “Die ouergemeenskap van Eldorado Park Secondary School het ’n dringende behoefte om hul kinders se leeromgewing te verbeter en ons moet hulle daarmee help.”

Die probleme en ongerymdhede by Eldorado Park Secondary School is net nóg ’n rede waarom AfriForum in 2019 ’n omvattende veldtog teen Lesufi geloods het. “Aan die begin van ’n nuwe skooljaar moet die skoolgemeenskap weet dat die kinders se belange die swaarste by die owerhede gaan weeg. Terwyl Lesufi egter aan die stuur van onderwys in Gauteng staan, is dit nie die geval nie,” sluit Bloem af.

AfriForum moedig die publiek aan om hul veldtog teen Lesufi se vergrype te ondersteun deur ’n petisie te onderteken wat Lesufi se afdanking eis. Besoek die webtuiste www.afriforum.co.za/Lesufimoetval of SMS jou naam na 32782 (R1).

Soortgelyke plasings